Local NewsNews

Theyman Jongbloed (38) sterk tans by die huis aan

Die Jongbloed-gesin se wêreld het tot stilstand geruk na verskeie mediese toetse 'n gewas op Theyman (38) se brein opgemerk het.

POLOKWANE – Op 38-jarige ouderdom is gedugte rugbyspeler Theyman Jongbloed ‘n gesonde sportman, ‘n goeie man vir sy vrou, Simoné, en die pa van drie woelwaters, Auwke (6), Pieter (4) en Theyman (2).

Na verskeie mediese toetse in Oktober word die gesin se wêreld egter tot stilstand geruk na ‘n gewas so groot soos sy vuis op sy brein opgemerk word. 

Die Jongbloedgesin: Pieter, Theyman, Auwke, Simoné en Theyman.

Simoné het met Review gesels, en verduidelik dat Theyman ongeveer ‘n jaar-en-‘n-half gelede twee keer kort na mekaar flou geword. “Theyman het verskeie toetse ondergaan en medikasie gekry, maar die simptome het vererger. Hy het begin gewig verloor en aan slaaploosheid gelei.”

In September word hulle na ‘n neuroloog verwys en dit is hiér waar bevind word dat Theyman aan epilepsie ly. Hy was op medikasie vir ‘n maand en in Oktober word ‘n MRI-skandering gedoen om te bepaal wat die epilepsie veroorsaak.

“Dis toe dat ons uitvind daar is ‘n gewas op sy brein. Die plek waar die gewas is, is in die gedeelte van die brein wat jou emosies affekteer.”

Volgens Simoné sal Theyman op medikasie moet bly. “Ons het wel verdere opinies ingewin. Ons was by drie verskillende spesialiste in Gauteng en die derde een het bevind die gewas druk vier breinventrikels vas. Dit veroorsaak spanning op die brein en kan lei tot hidrokefalie, wat water op die brein beteken.”

Daar is besluit om vroeg in November ‘n stent in te sit asook ‘n biopsie te doen om die mees geskikte behandeling te bepaal. “Theyman is op 2 November geopereer om ‘n biopsie te doen, maar daar was komplikasies wat bloeding veroorsaak het. Die bloeding kon gestop word, maar die operasie kon nie voortgaan nie en die stent kon dus nie ingesit word nie.”

Theyman was gesedeer en op ‘n ventilator geplaas vir 48 uur. “Dit sou ‘n week gewees het, maar ek glo God was by ons want almal het gebid vir krag en gesondheid. Theyman het self stelselmatig begin wakker word.”

Voor Theyman se opname in die intensiewesorgeenheid het die dokter vir Simoné verduidelik dat die histologie van die letsel nie goed lyk nie: Daar is kwaadaardige selle en die mediese prognose is nie goed nie. “Ek het ons ouers ingelig en van daar af is dit soos ‘n ongelooflike ondersteuningsnetwerk van mense wat vir ons begin bid het.”

Theyman is verlede week Donderdag ontslaan en sterk tans tuis aan. Hy en Simoné het Dinsdag weer na Pretoria gereis om meer uit te vind van die bestraling wat deur ‘n sekere dokter op ‘n graad 1 en 2 gewas gedoen kan word.  

“‘n Mens kan nie graad 1 en 2 letsels met chemoterapie of aggressiewe bestraling behandel nie, en ons bid en vertrou die dokter sal kan help. Dit gaan paar ‘n weke neem om die uitslae van die medisietoetse te ontvang,” sê Simoné

Sy noem een van die dokters het voorheen vir haar gesê hy kan nie glo Theyman funksioneer soos wat hy doen as mens na die intensiteit van die letsel kyk nie. “Ek glo in wonderwerke. Ek weet met my hart en siel dat Theyman in God se hande is en dat Hy ons die pad sal wys. Die dokter het vir my ook gesê dat wonderwerke gebeur, ons moet net bid en vertrou. Hulle is net instrumente wat op aarde geplaas is.”

Nadat Theyman uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas is na ‘n gewone saal, was daar verpleegpersoneel saam met Simoné by hom. “Beide die saaldeure het skielik oopgeswaai sonder dat daar enige wind was. Die een suster het na my gekyk met die woorde ‘dit is die Heilige Gees, God is hier’.”

Theyman het sy eie konstruksiebesigheid waar Simoné ook werk. Hy het vir jare vir Noordelikes Rugbyklub uitgedraf en sy laaste wedstryd in 2019 gespeel.

Simoné en Theyman bedank elke persoon wat oor hulle pad kom, van die mediese personeel, predikante, vriende en hulle familie wat hulle bystaan. “Baie dankie vir almal wat so belangstel en vir hom bid. Theyman is geliefd en is dit vir my wonderlik om te sien dat hy ‘n impak het in so baie mense se lewens.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button