JC benodig jou help
JC Nell sal in Februarie sy tweede verjaardag vier en sy ouers, Nelia en Peet, hoop sy mediese probleme sal teen daardie tyd ook iets van die verlede wees.
POLOKWANE – Nelia vertel hulle het onraad begin vermoed toe JC hardlywig begin raak het in Oktober verlede jaar.
“Ons het eers gedink dit is die melk wat hy drink en het dus die melk verander. Dit het nie ‘n verskil gemaak nie, en ons het vir hom lakseermiddel gegee wat ook nie die probleem opgelos het nie.”
Nelia het JC na ‘n dokter geneem wat agtergekom het hy het ‘n liesbreuk.
“Die dokter het my gerus gestel. My ouer seun, Petie het ook ‘n liesbreuk gehad en was daarvoor geopereer. Ek het ‘n tweede opinie ingewin en vasgestel JC se derm beweeg in die breuk in en knyp vas. Wanneer sy maag moet gaan, ervaar hy pyn. Hy gaan maklik deur ses doeke in ‘n kort tydjies.”
Nelia het navrae gedoen met die oog om die operasie om die liesbreuk te herstel by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal te laat doen, maar voel nie gerus nie. “Ek mag nie by my kind in die hospitaal bly nie en mag hom net besoektye sien. Ek gaan nie my baba alleen daar los nie. Dus wil ons geld bymekaar maak om hom eerder in ‘n privaat hospitaal te laat opereer. Ons behoort nie aan ‘n mediese fonds nie, aangesien net my man werk.”
Volgens kwotasies wat Nelia ingewin het, benodig sy R12 571. Dit sluit die koste vir die dokter, hospitaal en narkotiseur in.
Sy het ‘n BackaBuddy rekening geskep vir mense wat bereid is om ‘n finansiële bydrae te lewer. Hierdie fonds sal al die geld aan die relevante dokters uitbetaal.




