Dogter ook nou tuis na motorongeluk in Mokopane
Marishca Barnard en haar ma Gerda, sterk tans by die huis aan nadat hulle verlede Sondag in 'n noodlottige ongeluk betrokke was. Haar pa, Thinus, en haar vriend Morné Hurter, het later aan hulle wonde beswyk.
MOKOPANE – Die plaaslike gemeenskap is steeds in skok na die noodlottige ongeluk waarin die Barnard-gesin verlede Sondag kort voor ses die aand betrokke was.
Thinus en Gerda Barnard, hulle dogter Marishca en haar vriend, Morné Hurter, was in ‘n motor by die kruising van Pretorius- en Geyserstraat toe ‘n luukse viertrekvoertuig hulle teen ‘n hoë spoed getref het.
Paramedici, gemeenskapslede en belangrike rolspelers het na die toneel gehaas toe ‘n dringende boodskap op die noodgroepe uitgestuur was.

Gerda en Thinus is bekend vir hulle heerlike gebak onder die vaandel van Gerda’s Beskuitkombuis. Gerda is ook die voorsitter van die Mokopane Noodforum.

Kringtelevisiebeeldmateriaal bevestig dat die luukse voertuig, met ‘n buurlandregistrasie nommerplaat uit die rigting van Chroompark in die reën op pad was en die bestuurder die rooi verkeerslig verontagsaam het.
Die Barnards se motor het pas weggetrek by die robot, uit die rigting van Geyserstraat, toe hulle motor getref was en etlike meter verder tot stilstand gekom het.
Die impak aan die bestuurder se kant was so erg dat die Barnard-gesin se motor eers getol het voordat dit op sy sy tot stilstand gekom het. Marishca is in die proses uit die voertuig geslinger.

Volgens ooggetuies het ‘n wiel van die Barnards se motor in ‘n naby geleë erf beland. Die drie insittendes van die ander voertuig het op die vlug geslaan kort nadat dit tot stilstand gekom het.
Die petroljoggies van die nabygeleë vulstasie het egter een van dié mans vasgetrek.
Thinus se veiligheidsgordel moes losgesny word alvorens hy uit die voertuig gehaal kon word.
Nooddienstewerkers van SOS Ambulansdienste het die vier pasiënte op die toneel gestabiliseer voordat hulle na Voortrekker Hospitaal vervoer was.
Thinus, Gerda en Marishca is oorgeplaas na ‘n privaat hospitaal in Polokwane, maar Morné se toestand was egter te onstabiel om hom oor te plaas.
Hy is in die vroeë oggendure van 22 November op die ouderdom van 22 jaar oorlede.

Thinus Barnard jr. het aan Bosveld bevestig dat al sy pa se linkerribbes gebreek was, hy ‘n gat in sy long gehad het en dus ook baie inwendige bloeding. Sy toestand was kritiek en hy was aan asemhalingsmasjiene gekoppel. Mediese personeel het verlede Maandag gespook om die bloeding te dreineer voordat hulle hom kon oorplaas na die intensiewesorgeenheid. Hy is egter verlede Maandagmiddag oorlede.
Marishca het haar bekkenbeen gebreek en was aanvanklik, weens die uitdaging van mediese koste, oorgeplaas na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal terwyl familie, vriende en kennisse geld ingesamel het vir privaat mediese sorg.
Sy was later weer terug in die privaat hospitaal waar hulle verlede Woensdag wou opereer. “Hulle het haar teater toe gevat en ‘n laparoskopie gedoen deur binne in haar bekken te kyk hoe lyk al haar organe. As gevolg van die laparoskopie het hulle toe besluit om nie te opereer nie maar haar eerder in ‘n stut te sit, sodat die bene self kan aangroei,” verduidelik familievriend Ilse Irving.
Marishca is Saterdag huis toe gestuur waar sy verpleeg moet word. “Dit gaan nog moeilik met haar aangesien hier nie veel gekwalifiseerde susters is nie. Gerda kan haar ook nie help nie want sy het nog baie seer en kneus plekke. Haar familie staan haar egter baie by en help,” voeg Irving by.
Gerda het haar ribbes gebreek en het erge kneusplekke.
‘n Saak van strafbare manslag is oopgemaak en word tans ondersoek.
Morné se gedenkdiens sal môre (30 November) om 11:00 vanuit die AGS Groeipunt gemeente gehou word. Thinus se begrafnisreëlings is nog nie bekend nie, aangesien Gerda eers wou wag dat Marishca uit die hospitaal ontslaan kon word, sodat sy by haar pa se diens kan wees.
Die gesin behoort nie aan ‘n mediese fonds nie. Organisasies en vriende in die dorp het dit goedgedink om geld in te samel met behulp van die gemeenskap om die gesin se nood te verlig. Belangstellendes wie graag die Barnard-gesin wil bystaan met mediese koste kan skenkings maak in die volgende rekening:
Naam: De Beer Prokureurs.
Bank: Absa.
Takkode: 632005.
Rekeningnommer: 407 653 1075.
Verwysing: Barnard Fonds.




