Dié flamink kom kuier vir ‘n goeie doel
Lulu reis van tuin tot tuin vir ‘n goeie doel. Lees meer hier:
POLOKWANE – Dit is nie aldag dat ‘n mens ‘n helderpink flamink in Polokwane se tuine sien nie, maar die afgelope paar weke het dié gedierte in verskeie tuine gepronk.
Lulu die flamink is die uitvindsel van Tina Gilfillan, die president van die Rotary Anns en die doel is om geld in te samel vir projekte wat deur die Anns gehou word. Die Rotary Anns is deel van die Pietersburg 100 Rotary Club.
“Ons Anns het almal van die naam Lulu gehou, na aanleiding van die liedjie ‘Liewe Lulu, sal jy by my kom doedoe.’ Lulu reis van tuin tot tuin en bly daar tot die eienaars besluit om haar na die volgende tuin te vat en te betaal. Jy kan ‘n tuin vir haar nomineer waar sy moet staan, of my net kontak en vra om haar te verwyder,” vertel Adrienne de Witt, wat sorg dat Lulu goed versorg word.
Daar is nie ‘n vaste bedrag betaalbaar nie en jy kan self besluit hoeveel jy wil skenk.
Lulu is uit afvalmateriaal deur Johan Joubert gemaak en sy is in die proses om nog ‘n sussie of twee by te kry. Indien jy sou belangstel om Lulu vir ‘n wyle in jou tuin te huisves kan jy vir Adrienne skakel by 082 464 1253.
Geld kan in die volgende rekening inbetaal word: Rekeningnaam: The Rotary Club of Pietersburg 100.
Rekeningnommer: 1411382315.
Nedbank Polokwane.
Takkode: 141-148
Verwysing: Flamingo en jou naam.




