Medelye stroom in na Hoërskool Ben Viljoen matrieks se afsterwe
Skole, ouers en mede-leerders se boodskappe stroom steeds in vir die families van die drie Hoërskool Ben Viljoen leerders wie Saterdag in 'n motorongeluk oorlede is.
LIMPOPO – Honderde boodskappe word op sosiale media gedeel waar skole, oud-leerders en vriende medelye aan die families van drie Hoërskool Ben Viljoen leerders stuur.
Matriekleerders JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring het na bewering Saterdag (4 Desember) in ‘n motorongeluk op die N2 naby Groot-Brakrivier verongeluk. Die bestuurder van die luukse motor waarin die seuns gery het, het glo beheer van die voertuig verloor en hulle is uit die voertuig geslinger.
Volgens George Herald dui ‘n voorlopige ondersoek daarop dat die seuns na hulle matriekvakansie op Hartenbos onderweg was.
Die ongeluk het tussen 01:00 en 02:00 op die N2 naby die Maalgatebrug gebeur en al drie is op die toneel dood. Suid-Kaap-polisiekommunikasiebeampte Kaptein Malcolm Pojie het aan Herald genoem ‘n vierde insittende is later in ‘n hospitaal vir sy beserings behandel en intussen ontslaan.
Die bestuurder van die voertuig is nog nie bekendgemaak nie.
In tussentyd het plaaslike skole soos Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Hans Strijdom, Hoërskool Ellisras en Hoërskool Merensky hulle hartseer uitgespreek.
“Ons Tommie-harte gaan uit na die hoof, personeel en leerders van Hoërskool Ben Viljoen. Ons dink in besonder aan die ouers van hierdie drie pragseuns en ons gebed is dat ons Hemelse Vader elkeen sal omvou en vertroos in hierdie ongekende tyd van smart,” deel die Tommies in ‘n plasing op Facebook.
PHS skoolhoof Adolf Ellis het ook ‘n boodskap gedeel: “Dit is met leedwese dat PHS verneem het van die afsterwe van die drie seuns van Hoërskool Ben Viljoen. Dit is tragies dat hulle op so jong ouderdom weggeruk is van hulle geliefdes. Ons dra hulle ouers, die hoof en gemeenskap op in gebed. Mag die liefde van Ons Vader hulle toevou en vertroos in hierdie tyd.”
Die Limpopo LUR vir Onderwys, Polly Boshielo, sê die leerders se dood word wyd betreur. “Dit is regtig hartseer nuus wat almal nog probeer verwerk. Dit is vreeslik hartseer om hierdie jong mense, wat voorberei het om die wêreld te verower, so skielik te verloor nadat hulle hul nasionale senior sertifikaat eksamens voltooi het. Hierdie is nie net ‘n verlies vir hulle gesinne nie, maar vir die hele skoolgemeenskap en ons as ‘n departement.”

‘n Kranslegging is vroeër vandag (7 Desember) by die skool gehou. Volgens ‘n plasing van die skool was die kranslegging bygewoon deur afgevaardigdes van die Limpopo Departement van Onderwys, onderwysers, leerders, oud-leerders en inwoners. “Ons bedank graag die gemeenskap sowel as almal wat ondersteuning gebied het in hierdie tyd,” voeg die plasing by.




