Local NewsNews

Polokwane pa fokus op die positiewe

Die lewe is moeilik genoeg, maar Frans Jansen van Rensburg het jare gelede besluit om die positiewe raak te sien en die beste van 'n slegte saak te maak.

Maretha Swanepoel

Die lewe is moeilik genoeg, maar Frans Jansen van Rensburg het jare gelede besluit om die positiewe raak te sien en die beste van 'n slegte saak te maak.

Hy is 'n familieman en pa van 'n 13-jarige seun. Frans was 17 jaar oud toe daar 'n aar in sy rug bars wat totale verlamming veroorsaak het.

“Ek was baie sportief en was op pad van Hoedspruit af na Phalaborwa toe die fratsongeluk gebeur het. Al wat in daardie stadium gewerk het, was my kop. Ek het wel 'n bietjie gevoel in my arms gehad, maar vir die eerste 10 jaar geen gevoel in my bene gehad nie.”

Frans onthou hy het aan die begin grappe gemaak oor sy situasie en dit het sy lewe heelwat vergemaklik. Hy het vir verskeie toetse gegaan.

“Niemand kon vir my sê hoe lank ek verlam gaan wees nie. Ek het soveel vrae gehad, maar daar was regtig nie antwoorde nie. Ek het dit dag vir dag gevat.”

Ongeveer vyf jaar na hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy werk gekry as klerk by 'n bank en vandag is hy in die privaat sektor besig met mediesepraktykadministrasie.

“Deur die jare het ek baie vriende verloor. Mense weet nie hoe om jou te hanteer nie. Daar is nie 'n handboek vir mense wat skielik verlam is nie. Elkeen se storie is anders. Jy moet net self besluit hoe jy dit wat in jou lewe gebeur wil hanteer. Ek het dit vir my familie probeer makliker maak. As iemand my wil help, kan hulle help. As hulle nie wil nie, is dit ook reg. Ek wil nie vir mense bewys ek kan op my eie regkom nie. Jou afdae is anders, jy kan dit vir niemand verduidelik nie. Ek glo daar is altyd iemand wat erger af is as ek.”

Frans geniet dit om kos te maak en gaan doen die gesin se inkopies self. Alhoewel mense soms stop en na hom staar, sien hy homself as normaal. “Mense se reaksies verskil. Daar is wel uitdagings. Trappe en steiltes is 'n probleem en om in en uit my kar te klim is ook nie maklik nie. Ek kan nie gou-gou by 'n winkel inhardloop nie, dit neem tyd. Om 'n rolstoelvriendelike huis te kry was baie moeilik en dit het baie gekos om my motor om te skakel sodat ek self kan bestuur. Om onafhanklik te kan lewe is duur. Mense wat op gestremdes se parkering stop besef nie altyd hoe dit ons lewens bemoeilik nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button