Local NewsNews

Arts gee raad oor tipes hoofpyne

Volgens algemene geneesheer, dr. Paul Vorster, is hoofpyn die algemeenste klagte onder die meeste pasiënte. Hy het aan Review die verskillende soorte hoofpyne verduidelik.

Maretha Swanepoel

Talle van ons ken die pyn en irritasie wat gepaardgaan met 'n hoofpyn.

Volgens algemene geneesheer, dr. Paul Vorster, is hoofpyn die algemeenste klagte onder die meeste pasiënte.

Hy het aan Review die verskillende soorte hoofpyne verduidelik.

“Mense beskryf dikwels hulle hoofpyne as migraines omdat hulle dit so intens ervaar.”

Volgens Vorster is 'n migraine se tipiese simptome visueel van aard, of mense ervaar 'n ander aura vir ongeveer 15 minute. “'n Aura is wanneer 'n persoon dalk 'n flikkering of sterretjies sien, of selfs 'n snaakse smaak in die mond proe. Daar is verskillende auras wat 'n mens kan ervaar en die hoofpyn volg gewoonlik daarna.”

Hy verduidelik dat die hoofpyn gewoonlik unilateraal is, met ander woorde net aan die een kant van die kop en dit kan tipies 'n kloppende tipe hoofpyn wees.

“Die pasiënt is dikwels baie naar en hulle oë kan sensitief vir lig wees. 'n Migraine vereis dikwels sterker medikasie as dié wat jy oor die toonbank kan koop en hierdie pasiënt sal gewoonlik by 'n dokter aanklop.”

Ander algemene hoofpyne:

• Spanningshoofpyn: “Dit word ervaar as 'n band wat styf om 'n mens se kop span. Die pasiënt het ook dikwels 'n stywe en seer nek en skouerspiere. Dit word behandel met anti-inflammatoriese medikasie en spierverslappers. Fisioterapie is ook dikwels nodig.”

• Troshoofpyne: “Hierdie hoofpyne is baie seer en kom gewoonlik agter of bo een oog voor. Dis 'n herhalende hoofpyn wat terug kom. Cluster-hoofpyne het baie sterk medikasie nodig.”

• Sinusinfeksie. “Dit veroorsaak pyn bo die oë of op die voorkop. Dit is gewoonlik seer vir die pasiënt as jy teen die sinusholtes klop of druk.”

• Virale infeksie: “Dit veroorsaak dikwels aanhoudende pyn en die pasiënt sal sê sy of haar hele kop pyn. Dit kan dikwels breinvliesontsteking of enkefalitis wees. Met eersgenoemde het jy koors, is jy sensitief vir lig en het 'n stywe nek en dikwels ook 'n uitslag op die lyf. Met enkefalitis het jy koors, toon jy vreemde gedrag en kan jy konvulsies ervaar. Hier is hospitalisasie baie belangrik.”

Vorster sluit af deur te verduidelik 'n mens moet jou reisgeskiedenis in gedagte hou asook waar jy woon, aangesien hoofpyn wat met lyfseer gepaardgaan moontlik ook bosluiskoors of malaria kan wees.

“Inligting is deesdae maklik beskikbaar en dikwels diagnoseer pasiënte hulself korrek deur om te lees. Aptekers ook met die regte medikasie. Indien 'n hoofpyn vererger, raadpleeg 'n geneesheer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button