Local NewsNews

Só word James van den Bergh onthou

James van den Bergh, die eienaar van The Furniture Man, is Sondagoggend oorlede, vermoedelik aan 'n hartaanval.

POLOKWANE – ‘n Groot boom het geval in Pietersburg.

Dit is die woorde van Petro du Preez van die Pietersburg Hulpgroep, ‘n organisasie waar plaaslike inwoner James van den Bergh ‘n leidende rol gespeel het. James, die eienaar van The Furniture Man, is Sondagoggend oorlede, vermoedelik aan ‘n hartaanval.

“Hy was tot die einde nog besig met hulpverlening, en om diesel vir die organisasie Sondag te organiseer. Hy was ‘n man met ‘n groot hart. Sy laaste projek was nog om kratte te bou om by winkels te plaas vir donasies vir die hulpverleningsorganisasie.”

James was in vroeër jare ‘n suksesvolle slaghuiseienaar voor ‘n hartaanval in 2010 sy lewenspad op ‘n ander roete gestuur, en hy begin meubels maak en restoureer het.

Sy vrou, Vicky, vertel hulle was Sondag buite in die tuin besig toe sy hom elders hoor kreun het. Hulle het gaste vir ete verwag, wat in daardie stadium aangekom het.

“Ek het die hek gaan oopmaak en vir my seun geroep om te gaan kyk of sy pa moontlik hulp nodig het.”

Toe sy haar weer by James aansluit, het hy sy spuit wat hy gewoonlik gebruik het vir sy hart, in sy hand gehad. Vicky sê hulle het hom onmiddellik hospitaal toe gejaag, maar vir dié alombekende en beminde man was dit reeds te laat.”

Daar is te veel om te sê, te veel dinge om te onthou,” sê Vicky.

“Hy was maar net altyd daar en waar hy hulp kon verleen, het hy gehelp. Hy was ‘n mens met mensekennis en het ongelooflik baie mense geken.”

Behalwe vir sy bydrae tot hulporganisasies was James ook bekend as ‘n gemeenskapsaktivis wat die bekende Swart Maandag-optogte en verskeie biddae gereël het.

Huldeblyke van oraloor stroom op sosiale media in, en Vicky vertel dat sy telefoon aanhoudend lui soos mense skakel om simpatie te betuig met die joviale en vriendelike man se afsterwe, ‘n reguit mens met ‘n skerp sin vir humor.

Marcelle Maritz, die leier van die Vryheidsfront Plus in Limpopo skryf op Facebook: “Dis sulke hartseer nuus, ons groet James van den Bergh. Baie sterkte aan die familie, hy sal gemis word. Gaan jou stem en boodskappe mis, jou hart was op die regte plek ek saluut (sic) jou. Jy het geveg vir die saak en ons mense het vir jou saak gemaak. Rus in vrede”.

James word oorleef deur sy dogters, Jo-Ann en Karla en seun, Eduard.

Sy ma, Litha Steynberg, woon in Kuruman.

Vir Eduard was sy pa “die man wat almal probeer help het, en as hy nie kon help nie, het hy iemand geken wat kon help”, en Karla sal altyd die baie stories onthou wat hy vertel het as hulle iewers heen gery het.

“Hy kon vreeslik baie praat en het baie mense geken,” meen sy.

Begrafnisreëlings was nog nie teen druktyd gefinaliseer nie, maar sal op Facebook geplaas word.”We love you dad,” is Karla en Eduard se afskeidswoorde aan hulle pa.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button