NG Noord se dr. Putter aanvaar beroep na Witrivier
Dr Jaco Putter, mede-leraar by die Nederduits Gereformeerde gemeente Pietersburg-Noord, het, na 13 jaar by dié gemeente 'n beroep aanvaar na 'n plattelandse gemeente.
LIMPOPO – Putter sal op 1 Januarie begin by sy nuwe gemeente in Witrivier.
“Na 13 jaar hier, neem ek en my gesin moeilik en met swaar harte afskeid van hierdie wonderlike gemeente, maar sien met afwagting uit na die nuwe begin in Witrivier, waarheen die Here ons voetstappe lei,” sê hy.
“Hierdie gemeente is ‘n omgeegemeente en het op alle vlakke goed vir ons gesorg, ons verdra en gedra.
“Ek het twee maal vanjaar Covid-19 gehad, en hulle het in die tyd toe ons in kwarantyn was hope kos aangedra, soveelso dat ons naderhand selfs begin uitdeel het.”
Bewoë vertel hy wat hy alles sal mis: Die bande wat hy oor die jare gebou het met die mense in die gemeente en op verskillende vlakke in die gemeenskap self, sy spreekkamer waar hy as terapeut meer as 8 000 mense gesien het en ‘n pad mee gestap het, die spanwerk tussen hom en sy kollegas en die gemeente self.
Nog dinge wat vir hom baie beteken het was die fasiliteringswerk wat hy by skole gedoen het en die bande wat hulle as gemeente met die regering en regeringsinstansies gebou het, tot op presidensiële vlak. Die gemeente het hom ook die ruimte gegee om navorsing te doen in Nijmegen in Nederland, en klas te gee aan die satellietkampus van die Noordwes Universiteit by die AGS kerk in Jorissenstraat.
“Ek gaan die sterk leierskap en die bedieninge mis, die mense in die bedieninge. In ‘n stadium was die moraal laag, ek moes vyf begrafnisse in twee dae waarneem, op ‘n ander keer agt in twee weke, maar die Here het ons gehelp om hoop te behou, Hy het ons deur dit alles gedra.”
Aan die ander kant sien hy uit na dit wat voorlê, die onbekende wat die Here op sy pad gebring het, dit wat die Here wil hê en die ontdekking van wat hom te doen staan, wat van hom verlang word en die gemeenskap wat hy moet leer ken.
Sover het hy gulhartige vriendelikheid, gasvryheid en aanvaarding vanuit die plattelandse gemeenskap ervaar en sien hulle uit om hulle kinders, die vyfjarige Stephan en negejarige Riëtte, op die platteland groot te maak. Hanske, sy ouer seun is volgende jaar in gr. 12 in ‘n skool in Natal, en Cayla is reeds besig om te studeer.
Hy sien verder uit daarna om volgende jaar ook by die E-Kerk se digitale pastoraat betrokke te raak, en sodoende mense landwyd te help met berading. Net so maak sosiale media dit moontlik om kontak en bande met mense in Polokwane te behou, sê hy.
“Ek het so baie van hierdie gemeente en die gemeenskap geleer. Dis met groot dankbaarheid en hartseer, maar met groot afwagting in my hart dat ek van Polokwane afskeid neem.”




