Local NewsNews

Ian se hart klop vir sy gemeenskap

Van der Merwe verduidelik dat Mokopane na aan sy hart lê en hy nie wil sien hoe die dorp agteruit gaan nie.

POLOKWANE – “As jou hart vir die gemeenskap klop, is dit moeilik om terug te sit en te sien hoe die dorp en skole verval, en daarom reik ons uit,” is die boodskap van die bekende gesig van Spar, Ian van der Merwe. “Ons doen dit nie om erkenning te kry nie, maar uit ons harte, om seker te maak dat die toekoms beter lyk.”

Van der Merwe wat reeds jare deel is van die Spar-groep vertel dat hy aan die Noordwes Universiteit Potchefstroomkampus rekenregte studeer het voor hy by sy pa aangesluit het by Spar. “Ek was altyd lief vir rekeningkunde en syfers,” sê die sakeman terwyl hy van sy kinderjare praat waar beide sy ouers bekende besigheidsmense was.

“My ma het al die jare geskenk- en klerewinkels gehad,” sê hy en vertel hoe hy as kind daar uitgehelp het. Die eerste Spar wat die familie gekoop het, was in Hammanskraal. Hy sê hy het begin om voorraad te ontvang, en volgens hom is dit die moeilikste afdeling om jou voete te vind.

Kort daarna is die familie Paledi toe in Mankweng, waarna hulle na Haenertsburg verhuis het en ‘n vulstasie en ‘n kafee besit het. Die wind het hulle weer Mokopane toe gewaai waar hulle sedert 2010 hulle wortels diep in die gemeenskap geskiet het.

“Alhoewel ek meer by die vulstasies uitgehelp het, het ek later aangesluit by Spar. Dit was harde werk, maar ons is trots dat ons al op verskeie geleenthede onder die top 20 takke in die land was.” Die familie se sukses eindig nie hier nie, hulle is ook die trotse eienaars van twee Spar-takke in Polokwane, Flora Park en City Centre, om nie te vergeet van die tak in Lebowakgomo nie.

“Ons as ‘n familie beweeg maar tussen die takke en werk saam aan die sukses van die besighede.”

Hy vertel dat sy drie kinders hom motiveer. “Iemand moet probeer help om die dorp en die dinge bymekaar te hou,” sê hy wanneer hy vertel van sy betrokkenheid by die Mokopane Sakekamer, Bulletjierugby en die gemeenskap. “Dis hartseer wanneer ou goeie gesoute besigheidmense uit die dorp trek. Dis almal mense met kennis wat kan help om die dorp reg te ruk.” Hy verduidelik dat hy dit op sy skouers geneem het om te bly en aan te hou baklei vir ‘n beter dorp en ‘n beter skool vir sy kinders.

Van der Merwe verduidelik dat die dorp na aan sy hart lê en hy nie wil sien hoe die dorp agteruit gaan nie. “Dis belangrik dat ons die skole ondersteun en dat die skole goed doen. Daarom is dit vir my belangrik om hand by te sit en ‘n verskil te maak. Wie gaan na ons skole kyk as almal uit die dorp trek?”

Van der Merwe het betrokke geraak by Laerskool Krugerpark se Bulletjiespanne waar hy nie net die spelers afgerig het nie, maar ook hand bygesit het met die organisering van verskeie rugbydae.

Hy verduidelik dat hy nie werklik besef het waarvoor hy homself inlaat nie, maar dat hy lief geraak het vir elke seun. “Ek het in die proses ook baie van myself geleer.” Hy voeg by dat mens nie net geduld leer nie, maar ook ‘n nuwe waardering en respek vir onderwysers kry.

Met sowat 75 bulletjies wat hierdie seisoen gespeel het, vertel Van der Merwe hoe hierdie jaar se Bulletjierugbydag wat sowat 1 000 spelers op Laerskool Krugerpark se velde verwelkom het, ‘n reuse sukses was en kon hulle saam met ander borge seker maak dat elke speler ‘n pakkie kry om hulle spesiaal te laat voel.

Hy moedig ander aan om nie hulself met ander te vergelyk nie maar eerder met jouself. “As jy vandag ‘n beter mens is as wat jy drie maande terug was, het jy reeds gegroei. Elke mens stap sy eie pad en net omdat jy nie op die plek is waar iemand anders is nie, beteken nie dat jy gefaal het nie. As jy nou beter besluite maak as wat jy drie maande terug gemaak het, kan jy trots wees op jouself.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button