Local NewsNews

Pa en dogter sterk aan in hospitaal nadat vliegtuig val

Pierre Visser en sy sesjarige dogter Katrien het verlede Sondagmiddag 'n noue ontkoming gehad.

MOKOPANE – Pierre Visser’s Topz KR 030 vliegtuig het op die plaas Moorddrif buite die dorp neergestort en beide het ernstige beserings opgedoen.

Die wrak waaruit Pierre Visser en sy dogter Katrien gered is.

Katrien het drie arm frakture in beide arms, ‘n gebreekte elmboog en is vol kneusplekke. Sy het Dinsdagmiddag reeds haar eerste operasie ondergaan waar sy plate en skroewe in haar arm gekry het. Katrien sal binnekort nog operasies moet ondergaan op haar ander arm.

Lees ook: Dogter ook nou tuis na motorongeluk in Mokopane

Pierre se sternum is gekraak en daar is ‘n kraak deur sy skrotum. Hy het sy pelvis gekraak wat veroorsaak het dat die bekken oopgebreek het aan die voorkant. Dié breek het inwendige bloeding veroorsaak.

Verder is sy stuitjie gebreek en het daar ‘n punt van sy een vertebrae afgebreek. Volgens sy vrou, Magdaleen, is daar geen skade aan sy organe nie.

Sy vertel haar gesin is baie getraumatiseerd. “Dit was ‘n groot skok toe ek die oproep ontvang het wat my ingelig het oor die insident. Dit is ‘n wonderwerk dat hulle lewe.”

Sy verduidelik dat die oorsaak van die voorval ondersoek word, maar voeg by dat van die plaaswerkers bevestig het dat daar ‘n rukwind was net voor die vliegtuig neergestort het.

“Pierre kan geen van die dag se gebeure onthou nie, behalwe dat die vlerk van die vliegtuig omgegooi was en daarna het die enjin krag verloor.”

Die wrak waaruit Pierre Visser en sy dogter Katrien gered is.

Magdaleen noem dit is slegs deur genade dat Pierre en Katrien oorleef het. “As jy gaan kyk na voorvalle waar ligte vliegtuie betrokke is, is daar gewoonlik nie oorlewendes nie. Daarom is ek dankbaar vir die Here se genade dat hulle vir my gespaar is.”

Met beide Pierre en Katrien steeds in die hospitaal, verduidelik Magdaleen dat die pad na herstel nog lank is. Sy sê dat Katrien binnekort sielkundige behandeling sal ontvang om te help om die trauma te verwerk.

Pierre mag glad nie opstaan nie en moet Maandag weer vir skanderings gaan om te sien of die inwendige beserings en bloeding gestop het, voor hy geopereer mag word. Hy ondergaan in die stadium fisioterapie en kry ook hulp met hoe hy moet lê om die bloeding te dreineer, asook hoe om sy kussing vas te hou wanneer hy hoes.

Nico Willemse van die Limpopo Vliegskool het aan Bosveld verduidelik dat Pierre ‘n ervare vlieënier is. “Pierre het sy lisensie by my gedoen en ons vlieg al baie jare saam. Wat verkeerd gegaan het kan ons nie nou bevestig nie. Die ondersoek is nog aanhangig.”

Magdaleen bedank die gemeenskap vir hulle hulp en ondersteuning gedurende die moeilike tyd. “Daar is soveel mense wat kom help het. Ons as familie is opreg dankbaar.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button