Thelma se gesogte vrugtekoeke laat mense tou staan
Thelma Coetzer glo dat 'n vrugtekoek die beste geskenk is aangesien dit nie noodwendig tot Kerstyd beperk hoef te word nie.
MOKOPANE – Thelma Coetzer is ‘n ou bekende van die dorp wat deesdae op Mookgophong woon.
Sy kom nog gereeld Mokopane toe om haar heerlike vrugtekoeke te verkoop.
Daar waar ‘n mark is, daar is Thelma met ‘n vrugtekoek.
Sy het onlangs in Polokwane by twee markte uitgestal, en gaan ook by die Anika Kersmark in Modimolle uitstal.
Vanjaar het sy weer ‘n draai by die ouetehuis se liggiefees gemaak waar die bejaardes en die gemeenskap haar trots ondersteun het.
Sy vertel dat sy nie altyd gebak het nie, en dat sy vir jare in die bankwese gewerk het.
Nadat sy die bankwese vaarwel geroep het, het sy begin beskuit bak en dit verkoop.
Later het die vrugtekoeke bygekom.
Sy bak al vanaf 2008 vrugtekoeke.
Sy vertel het eers klein begin: “Ek het so 20 koeke in die eerste jaar gebak, en van daar af het dit al hoe meer geword. Ek het verlede jaar 400 vrugtekoeke gebak, en hierdie jaar sover 360 koeke. Ek het my kliëntebasis gekry deur my klënte wat die woord versprei. Daar is ook ‘n paar besighede wat elke jaar by my aankoop. ‘n Vrugtekoek is mos nou ‘n mooi geskenk.”
Sy begin al vanaf Juliemaand vrugtekoeke bak.
Sy bak ses koeke op ‘n dag, dit maak 30 koeke ‘n week, wanneer sy elke dag bak.
Thelma verduidelik dat dit nie ‘n ingewikkelde proses is nie, maar wel ‘n tydsame proses.
In die aand moet jy jou vrugte kook, die volgende dag meng jy dit saam met die res van die bestanddele, en dan skep jy die mengsel in panne en bak dit vir drie ure lank op ‘n laer temperatuur.
“Gelukkig het ons sonpanele by die huis, anders kon ek nie gebak het nie!”
Jy moet sorg dat jy goeie gehalte vrugte en brandewyn aankoop.
“Die mense is baie lief vir die vrugtekoek, omdat dit ‘n klam koek is. Dit het vir my ‘n passie geword waarvoor ek lief is, en gelukkig kan ‘n vrugtekoek nie flop nie.”
Haar vrugtekoeke is so gewild onder haar kliënte dat sy haar gebak regoor die land heen koerier.
‘n Vrugtekoek kan jy lank bêre, maklik ‘n jaar as jy hom reg verpak.
Dit is belangrik om die vrugtekoek eers in kleefplastiek toe te draai en dan in foelie, dan bêre jy dit in die yskas of in die vrieskas.
Wanneer jy die vrugtekoek weer uithaal is die koek nog steeds soos jy hom die eerste dag gekry het.
Thelma se groot vrugtekoeke weeg so 1,8kg.
“Die geheim om ‘n vrugtekoek klam te hou is, dat jy genoeg brandewyn oor die koek moet gooi, en ek sou sê jy moet ‘n resep gebruik waar jy jou vrugte kook, anders gaan die koek droog wees.”
Sy vertel dat vrugtekoeke maar ‘n tradisie is om oor Kerstyd te koop.
Jy hoef dit nie net oor Kerstyd te kry nie, jy kan reg deur die jaar vrugtekoek eet.
Jy kan altyd ‘n paar koeke in jou vrieskas hou, vir as daar kuiergaste by jou op daag, dan is daar ‘n soetdingetjie wat jy vir hulle kan bedien.
Thelma wil nie haar resep deel nie, aangesien dit ‘n “familieresep” is, maar sy nooi gerus die lesers uit om die rooi vrugtemengsel emmertjie by Fruit & Veg te gaan koop, as hulle dit self wil probeer bak.




