Na 4 dekades sit juffrou Monica haar pen neer
Monica Struass neem afskeid na 25 jaar as skoolhoof van Werk en Wen Primêr en laat 'n erfenis van liefde, omgee en toewyding agter.
polokwane – Monica Strauss, wat vir die afgelope 25 jaar aan Werk en Wen Primêre Skool as hoof verbonde was, het aan die einde van verlede maand haar kantoordeur vir die laaste keer toegetrek en sien uit na ‘n welverdiende aftrede ná 40 jaar in die onderwys.
Strauss is gebore en getoë in Upington, tussen die rooisand van die Kalahari en die groot Oranjerivier.
“Hierdie wêreld bruis nog deur my are en as klein dogtertjie het ek graag vir my poppe skoolgehou, prentjies geteken in die rooisand, op hout en teen die mure,” vertel sy.
Ná vier jaar se studies aan die Goudstadse Onderwyskollege, het Strauss haar loopbaan begin as onderwyser by Tink-tinkie Pre-primêre Skool in Pretoria.
“Die skool was ook verbonde aan ‘n kinderhuis en daar het ek vir die eerste keer gesien wat fisiese en emosionele geweld aan klein mensies doen. Daar het ek ook beleef watter groot verskil ‘n onderwyser in ‘n kind se lewe kan maak; hoe hy daardie klein mensie weer kan vertroos en help genesing bring. Hoe jy daardie bang, betraande maatjie met liefde en omgee kan koester tot ‘n blinkoogkind wat weer iemand kan vertrou.”
In Oktober 1986 trou sy met die liefde van haar lewe, Johan Strauss en hulle verhuis na Pietersburg, waarheen hy deur sy werkgewer verplaas is. Vir die volgende 13 jaar was sy aan Pre-primêre Skool Suikerbekkie verbonde en is hul dogter Christine, wat nou ook al 13 jaar in die onderwys is, gebore en Oupa en Ouma is geseën met twee lieflike kleinkinders.
In die jaar 1999, kry sy die geleentheid om betrokke te raak by die stigting van Werk en Wen Pre-primêre Skool saam met die destydse hoof van Pietersburg Laerskool, Peet Bredenkamp en daar het haar termyn van 25 jaar as hoof van dié skool begin.
“Hier het ek baie vreugde en uitdagings saam met blinkoogkleuters, ouers en personeel beleef en daar was soms ook hartseertye soos wanneer ‘n familielid aan die dood afgestaan is. Maar die lag en vreugde wat ons saam ervaar het, was kosbaar en dit was so ‘n voorreg om met hulle te werk. Hulle is so eerlik en opreg en as jy in die oggend hul glimlaggies sien, vergeet jy sommer van jou eie sorge,” glo sy. Sy vertel van skreeusnaakse voorvalle, soos toe die kleuters ‘n plaaslike tehuis vir bejaardes besoek het en een van die kleuters ‘n 92-jarige oom vol deernis aan die arm gevat het en gesê het: “Jy moet eerder na Liewe Jesus gaan!.”
“Ná ‘n geseënde 40 jaar bedank en groet ek elke ouer wat hul kosbaarste besitting aan my toevertrou het en vir die verskil wat elkeen van hulle ook in my lewe gemaak het. Ook ons Hemelse Vader wat altyd krag en wysheid gegee het en my liefste Johan wat al die vreugdes en seer gedeel het en altyd beskikbaar was om met iets by die skool te help.”
“Daar wag nou meer tyd vir rondry, lang ente stap langs die see, baie dik boeke lees en skilder. ‘n Mens groet beslis terselfdertyd met ‘n glimlag en baie trane, want ‘n stuk van ‘n mens se hart bly agter maar ‘n baie groot stuk van my hart gaan julle almal saamvat,” groet Juffrou Monica.
‘n Olyfboom is verlede Donderdag op die skoolterrein geplant ter herinnering aan haar.