Klein Schalk het ‘n lang pad voor
Met sy geboorte het Schalk Nel net 2.3kg geweeg en nou, amper vyf maande en menigte doktersbesoeke later, weeg hy slegs 3.4kg.

POLOKWANE – Claudene Reeve, Schalk se ma, sê hy is op 14 April na vele komplikasies tydens die swangerskap op 37 weke gebore.
Sy Apgar-toetstelling was normaal.
Sy gehoor is ook met geboorte getoets en die oudioloog het vir Claudene gesê Schalk het nie sy gehoortoetse in beide ore geslaag nie.
“Ons moes weer op vyf weke gaan vir ‘n hertoets. Dié keer het hy weer nie die toets geslag nie en nadat die oudioloog vier keer getoets het, is ons na ‘n neurofisioloog in Pretoria verwys, waar Schalk ‘n ouditiewe breinstamreaksietoets moes ondergaan.”
Op 10 weke word die toets uitgevoer en daar word bepaal dat Schalk aan geringe gehoorverlies lei.
“Dit het glo iets te doen met die middeloor en ek is na ‘n oor-, neus- en keelspesialis verwys. Slegs drie dae later sien ons die spesialis wat druppels voorgeskryf het. Dié moes ons vir 10 dae gebruik en dan teruggaan vir ‘n opvolg ouditiewe breinstamreaksietoets, om te bepaal of die druppels gewerk het en of daar ‘ ander opsie is.”
Die spesialis het vir Claudene gesê hy is bekommerd omdat Schalk nie gewig optel nie.
Hy het hulle aangeraai om ‘n pediater in Pretoria te gaan sien.
Op 11 Julie besoek die gesin die pediater wat dadelik vir Schalk in die hospitaal opneem.
Hier word hy met ‘failure to thrive‘ gediagnoseer.
Schalk het vir ‘n bariumslukprosedure gegaan en daarna vir ‘n maagsonar.
Die dokter kon een van die maagkleppe nie sien nie aangesien die dikderm in die pad was.
Schalk het ‘n pypie deur sy neus gekry tot net bo sy maag om te toets vir refluks.
Daar is verskeie ander toetse ook geoden.
“Al die toetse moet ook nog betaal word by Ampath. My mediese fonds dek ongelukkig nie die bogenoemde toetse nie. Schalk het yster en vitamien D tekort en is gediagnoseer met ernstige refluks. Hy ontvang nou aanvullings en reuterina druppels asook medikasie vir die refluks.”
Intussen het die dieëtkundige aanvullings gegee om by die borsmelk te voeg met die oog daarop dat Schalk ‘n minimum van 20g ‘n dag optel.
“Ons moet hom elke week laat weeg en na vyf weke het Schalk net 115g opgetel. Omdat hy gewig so stadig optel het ons besef die aanvulling werk nie en is hy op Neocate melk gesit. Dit was ongelooflik duur en het vir vier dae R500 gekos. Dit was net ‘n skoot in die lug en probeerslag uit desperaatheid.”
Schalk moes weer die pediatriese gastroënloog sien en sy ouers wag nou om van dié spesialis te hoor.
“Intussen is hy weer terug op borsmelk aangesien die Neocate nie die nodige uitwerking gehad het nie. Die dokter het vir ons gesê sy ‘failure to thrive‘ het nie enigiets te doen met die melk nie, aangesien hy genoeg drink en dus moet daar ‘n ander probleem wees.”
Claudene is tans sonder werk en haar man is die enigste broodwinner. Elke dag wat hy verlof moet neem om na dokters en hospitale te gaan, verloor hy inkomste.
Al die nodige dokters en hospitale is in Pretoria en reisgeld is duur.
Intussen is Schalk se ouboet, Lionel, ook in die hospitaal opgeneem waar hy met brongopneumoni (aktiewe asmatiese aanvalle en allergiese rinitis) gediagnoseer is.




