Local News

Cor de Beer een van 50 in Elite ruiterspan

Daar is slegs 50 ruiters uit al die ouderdomsgroepe in vlak drie en vier wat vir die span gekies is. Cor is bly om een van hulle te wees.

POLOKWANE – Op die rug van sy perd, Arkab Florac is Cor de Beer (15) in sy element en kan min dinge hom onderkry.

Na maande se harde werk is hy gekies vir die Elitespan wat tydens die Western Mounted Games Nasionale Kampioenskappe in Parys gaan deelneem.

“Ek het werklik nie verwag om gekies te word nie, ek dink ek ly nog ‘n bietjie aan skok.”

Daar is slegs 50 ruiters uit al die ouderdomsgroepe in vlak drie en vier wat vir die span gekies is.

Cor het in 2018 met perdrylesse begin nadat hy en sy sussie, Nelca, by een van sy ma, Carla, se kliënte se ryskool aangesluit het.

Hy het verlede jaar in Februarie aan sy eerste Suid-Afrikaanse Ruiterkuns-skolevereniging (Sanesa) kwalifiserende kompetisie deelgeneem en baie goed gevaar.

Cor en Florac, soos hy liefdevol genoem word, spandeer reeds ‘n paar jaar tyd saam en het al vele rosette ingepalm.

“Die Elitespan word gekies op die vorige jaar se nasionale kampioenskappe. My oefenroetine verskil heelwat van wat dit verlede jaar was, so ek gaan net voort om te oefen.”

Hulle het gewoonlik les op ‘n Vrydagmiddag en gaan oefen gereeld by Winnfield Stables oor ‘n naweek.

Hulle het onlangs ook begin om op Dinsdae te oefen ter voorbereiding vir die nasionale kampioenskappe.

Cor erken hy het nie ‘n geheime resep om die beste uit homself en sy perd te kry nie, en sê net die regte afrigter wat jou druk om jou volle potensiaal te bereik, is belangrik.

“Ek en Ni-Marie Bierman is die enigste twee ruiters in Polokwane wat vir die span gekies is. Dit is ‘n baie groot eer en ek is bly sy kan deel hê daarin.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button