Local News

Om te help was nog nooit só lekker nie

Carl Lechner, eienaar van Tenpin on Grimm, moedig die gemeenskap aan om vir Lindie deur 'n heerlike ontbyt te ondersteun.

POLOKWANE – Tydens haar 20ste operasie, die keer ‘n heupvervanging, het dokters gesien dat die gat in Lindie Meyer (33) se hart heelwat groter is as wat daar aanvanklik gedink is, wat nóg verdere mediese uitgawes beteken.

Lindie het in Julie uitgereik en hulp gevra om die mediese uitgawes te help dek.

Sy is gebore met ‘n komplekse sianotiese hartafwyking wat veroorsaak dat haar hart nie genoegsame suurstof aan die res van haar liggaam verskaf nie.

Sy is ook kort na geboorte gediagnoseer met neonatale Perthe se siekte, ‘n heupversteuring wat veroorsaak word deur ‘n onderbreking van bloedvloei na die bal van die heupgewrig.

Die verlies aan bloedvloei lei tot beendood.

Sy het reeds verskeie heup- en opehartoperasies ondergaan en na die onlangse diagnose moet Lindie haar ortopediese sjirurg sien.

Carl Lechner, eienaar van Tenpin on Grimm en jarelange familievriend, het van Lindie se nood gehoor en besluit om te help.

So het die Lindie-ontbyt, die lig gesien.

Na die promosie ‘n maand lank aangebied is, kon Carl onlangs R4 000 aan Lindie oorhandig.

“Ek ken Lindie al jare en weet sy sukkel nog altyd met haar gesondheid. Sy doen altyd so baie vir ander en vra nooit hulp vir haarself nie. Dus toe ek die berig in Polokwane Observer sien, het ek besluit om te help. ‘n Deel van elke Lindie-ontbyt word aan haar geskenk.”

Lindie, wat nog baie pyn het, was in trane tydens die oorhandiging.

“Dit is nie maklik om hulp te vra nie. My lyf ruk my snags wakker van die pyn en ek slaap baie min. Ek sukkel nog om te loop en maak gebruik van ‘n kruk. Ek gaan weer terug dokter toe met die hoop vir beter pynmedikasie. Ek kyk na beter voeding opsies om my lewer te beskerm en die inflammasie in my lyf minder te maak. Ek is ongelooflik moeg en vat elke oomblik soos dit kom.”

Lindie skuld nog R37 000 wat sy geleen het vir mediese behandeling.

Sy sien gereeld die fisioterapeut asook ‘n pyn- en traumaspesialis.

Die uitstaande kostes is vir dokters, fisioterapie en die medikasie wat Lindie tot R1 000 per maand uit die sak jaag.

“Asseblief help ons om die dokter te kan betaal. Dat ons net die gate wat meer druk op ons plaas, kan toestop. En asseblief bid vir my. Daar is altyd krag in gebed.”

Carl het ook besluit om aan te hou om die Lindie-ontbyt beskikbaar te stel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button