Local News

‘n Dubbele masektomie vat nie jou vroulikheid weg nie, sê Elize

Volgende maand is dit reeds twee jaar sedert Elize de Lange ‘n dubbele mastektomie gehad het nadat sy met borskanker gediagnoseer was.

POLOKWANE – Elize de Lange is nie iemand wat haar sommer laat onderkry nie.

Selfs toe sy die swaar nuus dat sy borskanker het by die dokter moes hoor het sy besluit om positief vorentoe te gaan en sy het haar mastektomie met goeie gesindheid aangedurf.

“Ek het glad nie verwag om te hoor ek het kanker nie, maar terselfdertyd het ek die nuus goed gevat. Daar was geen geskiedenis van kanker aan my ma of pa se kante van die familie nie. Die kanker het gelukkig nie versprei nie, en ek het nie verdere behandeling ontvang na die operasie nie.”

Elize is ‘n baie positiewe mens met die vooruitsig om haar kleinkinders eendag te sien trou.

Dus het sy besluit dat die kankerdiagnose haar nie gaan terughou nie.

“Ek het ook teen rekonstruktiewe behandeling besluit en eerder vir my prosteses gehekel. Later het ek vir my prosteses gekoop.”

Alhoewel baie vroue glo hulle borste is wat hulle vroulik maak, was dit nooit ‘n gedagte vir Elize nie.

Sy meen ‘n vrou het nie borste nodig vir haar om soos ‘n vrou te voel nie.

“My man het my aanvaar sonder my borste en reguit gesê hy het my lief vir wie ek is en nie vir my borste nie.”

Oor die klere wat na so ‘n operasie nie altyd soos voorheen aan ‘n vrou sit nie, sê Elize sy het verskriklike groot borste gehad wat beteken haar klere sit nou beter.

Wanneer ‘n mens net een bors verwyder, voeg sy by, is die uitdaging daar om ‘n prostese te kry wat die selfde grote as die oorblywende bors is.

“Ons dink almal sien raak dat ons nie borste het nie, maar eintlik kom niemand eers agter nie. Ek is steeds dieselfde Elize wat ek was voor die mastektomie. Daar is vroue wat na my toe kom en vertel hoe ek hulle inspireer met my positiwiteit en boodskap van hoop. Almal van ons het ‘n monster waarmee ons sukkel, of dit nou kanker, depressie of enige ander siekte is, ons moet probeer om positief te bly. Sodra jy negatief raak, is dit moeilik om weer positief te wees.”

Haar raad aan ander vroue is om hulle nooit met iemand anders te vergelyk nie en om te onthou hulle borste maak nie ‘n beter of mooier vrou van hulle nie.

“Ek is glad nie skaam oor my mastektomie nie. Ek hoop om daaroor te praat kan ek ander motiveer. Al is dit net een vrou, dan het ek darem iemand gehelp.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button