Tara-Mae Thompson die nasionale redenaarswenner
Tara geniet baie stokperdjies, maar redenaars is een van die aktiwiteite waarin sy die beste vaar, en is onlangs as die beste in die land aangewys.
POLOKWANE – Dit sit nie in elke mens se broek om voor ‘n gehoor te staan en ‘n toespraak te lewer nie.
Wanneer jy net 12 jaar oud is en jy word beoordeel op elke sin wat jy sê en oogkontak wat jy maak, kan dié spanning veroorsaak dat jy jou woorde vergeet.
Vir Tara-Mae Thompson van Oosskool is die beoordelaars die minste van haar probleme.
Tara, soos wat haar vriende haar noem, is immers gewoond daaraan om haar standpunt voor ‘n gehoor te stel.
Sy was net nege jaar oud toe sy vir die eerste keer aan die ATKV redenaars deelgeneem het.
“Daardie tyd was ek baie op my senuwees en het ek veels te vinnig gepraat,” onthou sy.
Deesdae is sy heelwat rustiger en weet wat om te verwag.
Wat sy egter nie verwag het nie, is om as nasionale wenner aangewys te word.
“Ek was verskriklik bly en dankbaar, ek kan dit steeds nie glo nie. Die kompetisie was straf en die ander deelnemers het goed gepraat.”
Met dié wat Oosskool se revue ook intussen plaasgevind het, was Tara baie besig en moes sy waar sy kon ‘n tydjie afknyp om haar toespraak te lewer.
Tara sê spanredenaars is net so lekker soos om alleen op die verhoog te staan, maar spanredenaars laat haar soms bietjie stres aangesien sy bang is sy laat haar span in die steek.
“Ek dink as ek ‘n tema oor ballet of troeteldiere kry, sal ek lekker kan praat. Ballet is my ander passie en ek is ongelooflik lief vir my troeteldiere. Daar is ook soveel bewyse dat ballet en troeteldiere baie goed is vir mense.”
Volgens Tara is die uitdagendste om jou toespraak betyds te ken.
“Hopelik het jy ook nie ‘n erge verkoue die dag as jy moet praat nie. Dit is aaklig om te moet praat, maar jy hoes die heeltyd. En natuurlik is dit ‘n nagmerrie as jy jou woorde vergeet.”
Alhoewel Tara reeds ‘n gesoute spreker is, onthou sy hoe dit voel as jy voor die beoordelaars staan en jy vergeet jou woorde.
“Ek het al gesien sommige beoordelaars is baie tegemoetkomend, en hulle sal die spreker kans gee om hom- of haarself buite die saal eers te kalmeer en later weer te probeer, maar ander laat dit nie toe nie. Al wat ek kan sê is, as dit wel gebeur is die beste ding maar om stadig diep in en uit asem te haal, jouself en jou emosies onder beheer te probeer bring en aan te gaan. Probeer net altyd kalm bly.”
Redenaars is nie net ‘n stokperdjie waaraan Tara deelneem nie.
“Vandat ek aan redenaars deelneem is dit baie makliker vir my om voor mense te praat, dans en op te tree. Ek het baie meer selfvertroue.”




