Local News

Amelia is vandag hier met goeie onderlaag en God se genade

Amelia Höll vertel 'n storie van uithou en aanhou nadat sy 'n beroerte, borskanker en 'n motorongeluk oorleef.

POLOKWANE – Dit is nie elke mens wat ‘n beroerte, borskanker en ‘n motorongeluk oorleef om die storie te vertel nie.

Amelia Höll kan wel van hierdie soort genade getuig.

Sy was vir 21 jaar in die onderwys en betrokke by kinders met gestremdhede.

Na haar beroerte moes sy egter haar loopbaan vaarwel roep.

Amelia is baie allergies vir bysteek.

Terwyl sy in die tuin doenig was, het ‘n by haar gesteek.

Sy het onmiddellik haar man, Hein, geskakel om haar dokter toe te neem.

Die dokter het gesien iets is nie reg nie en vir haar Epinefrien gespuit.

Sy het ‘n allergiese reaksie gehad en flougeval.

“Dit het gevoel of ek met ‘n bofbalkolf geslaan word. Ek was naar en lam. Hein het my hospitaal toe geneem. Op pad daarheen het ek vir ‘n oomblik bygekom en my man gesmeek om te sorg dat die dokter my nie weer met Epinefrien inspuit nie.”

In die hospitaal het ‘n ander dokter haar egter weer met Epinefrien ingespuit.

“Ek het weer my bewussyn verloor en in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid wakker geword.”

Vir twee maande was Amelia in en uit ‘n koma.

Eers nadat sy ontslaan is en na die rehabilitasiesentrum in Pretoria geneem is, het hulle uitgevind sy is vir die bysteek behandel, maar het eintlik ‘n beroerte gehad.

“Ek moes leer hoe om alles weer te doen. Ek het, na ek uit rehabilitasie ontslaan is, vir twee jaar arbeid-, spraak en fisioterapie gekry. Ek het alles wat ek vir die kinders geleer het, op myself toegepas. Ek het myself geleer om links te skryf en weer te bestuur.”

Amelia kan nie haar regterarm gebruik nie en loop mank, maar dit sit haar nie terug om voluit te lewe nie.

‘n Paar maande nadat sy terug is by die huis, is borskanker by haar gediagnoseer.

“Die dokter wou dadelik opereer, maar na ek ‘n tweede opinie gekry het, het ek besluit om net chemoterapie en bestraling te kry. Na ‘n jaar se behandeling was die gewas klein genoeg om met ‘n klein operasie verwyder te word.”

Amelia het skaars herstel na die kanker-episode toe sy en Hein en hulle kinders na hulle plaas naby Vivo toe is.

“Op pad terug het ek in die bak van die bakkie onder ‘n seil gelê, aangesien ek nie lank kan sit nie. My dogter het voor by Hein gesit. Ons het my seun se bakkie gesleep. Ek het heeltyd ‘n gevoel van onheil gehad en het vir my vriendinne gevra om vir my te bid.”

Ongeveer 10km voor Polokwane het die bakkie gerol.

Amelia was vasgepen onder die bosbreker.

“Ek kon nie uitkom nie. Ek het seer gehad, maar het nie besef my regter been is gebreek nie. By die hospitaal het die personeel vir my gips opgesit en huis toe gestuur.”

Na ‘n tweede opinie is daar bevind Amelia se tibia en knie is af.

Sy is geopereer en hierna moes sy weer leer hoe om te bestuur.

“Kuns is een van die min dinge wat ek kan doen en wat ek geniet. Dit is soos terapie vir my. Met my regterhand buite aksie moes ek leer hoe om links te verf. Ek is nie kwaad vir enigiemand nie, en lief vir almal. Ek is vandag hier met goeie onderlaag en God se genade.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button