Local News

Christo keer terug na Mokopane, neem Arms & Ammo leisels oor

Christo Strauss se familie is nou al lank deel van Mokopane se geskiedenis, en hy is bly om terug te keer en met 'n nuwe uitdaging te begin.

MOKOPANE – Christo Strauss is ‘n oud-inwoner van die dorp, en is baie opgewonde oor die geleentheid om die leisels by Arms & Ammo oor te neem.

Strauss se familiewortels is diep begrawe in dié dorp, en hy vertel sy hele familie kom van Potgietersrus af.

Sy ouma was die eertse inskrywing in 1948 by Hoërskool Piet Potgieter, en sy ma het in 1968 gematrikuleer.

Daarna het sy broer in 1992 en hyself het in 1994 by HPP gematrikuleer.

Strauss het vir 22 jaar vir Safair Lugdienste gewerk, waar hy die wêreld vol gevlieg het, en ‘n draai in 83 lande en 273 stede gemaak het.

Hy was al selfs in die Suid- en Noordpool.

Strauss se liefde vir gewere kom van sy pa af, wat hom van ‘n jong ouderdom af geleer het om te skiet en hom gereeld gevat het om te gaan jag.

Sy gunsteling vuurwapen is ‘n 1982 Sako Delux, 30-06 kaliber.

Hy vertel hy is nou moeg rondgetoer, hy was baie van die huis af weg, en dit is nou tyd om rustig te raak.

Hy is opgewonde oor die nuwe uitdaging wat vir hom wag.

“My stokpertjie was nog altyd om te jag, met gewere te werk, en om ammunisie te herlaai. Ek het my stokpertjie gevat en dit my werk gemaak,” sê Strauss.

Die jagtrofee waarop hy vreeslik trots is, is die twee vlakvarke wat hy met een skoot geskiet het.

“‘n Mooi trofee is nie noodwendig ‘n rekordbok nie, dit is wat vir jou belangrik is, dit gaan oor die spesiale oomblikke, en dit voeg waarde by tot ‘n mooi trofee,” verduideluk hy.

Strauss is passievol oor etiesejag, liefde vir die veld en diere is belangrik.

Die jagters moet respek hê vir die natuur, en hulle moet weet hoekom en waarom hulle gaan jag, meen hy.

Rudi Kruger, die vorige eienaar, gaan nog vir twee maande in die winkel aanbly om vir Strauss touwys te maak.

Kruger gaan dan die Bosveld vir Mosselbaai verruil, omdat hy voel na sewe jaar is dit tyd vir ‘n nuwe hoofstuk langs die see.

Arms & Ammo onder die leiding van Strauss gaan vir kliënte topgehalte diens lewer.

As die kliënt iets spesifiek soek, gaan hy dit soek tot hy dit kry, teen bekostigbare pryse saam met goeie advies.

Hy vertel dat mense skrikkerig vir gewere is omdat hulle nie daarmee grootgeword het nie, en hulle nie die regte opleiding kry nie.

“Voordat jy ‘n handwapen of ‘n jaggeweer aankoop, is dit belangrik om te weet watter tipe wapen jy soek, en jy moet die regte papierwerk hê. As jy ‘n vuurwapen vir selfverdediging aanskaf, moet jou kop reg wees, jy moet bereid wees om die wapen te gebruik om jouself te verdedig. As jy ‘n wapen aankoop, moet jy sorg dat jy gereeld skietbaan toe gaan om te oefen, want daar is verantwoordelikhede wat met die besit van ‘n wapen gepaardgaan,” vertel Strauss.

Arms & Ammo kan help met wapenlisensies en die regte papierwerk.

Strauss beplan ook om in die toekoms motiveringstoesprake te gee oor vuurwapens, asook om kompetisies aan te bied.

“Wat Potties so perfek maak vir ‘n wapenwinkel is die mense; daar is ‘n groot aanvraag, en baie jagters wat gereeld in die Bosveld kom jag, wat ammunisie wil herlaai.”

Om te skiet vir sport is ook gewild in die dorp, en is ‘n goeie stokpertjie om te begin, aangesien die hele familie kan deelneem, meen hy.

As Strauss na die toekoms kyk, hoop hy om die winkel wat Kruger opgebou het, nog beter te maak.

“Die mense wat jy leer ken in die winkel word soos familie, en ek gaan daarop fokus om die beste raad en kliëntediens aan die gemeeskap te gee,” sluit Strauss af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button