Hotelpersoneellid net-net gemis toe skote klap in die bodorp
'n Voertuig was in die vroeë oggendure in Rissikstraat gewaar, waaruit vier skote gevier was.
POLOKWANE – Vier skote is verlede Dinsdagoggend vanuit ‘n bewegende voertuig in Rissikstraat in die bodorp afgevuur waarvan een ‘n nagwerker by ‘n hotel rakelings gemis het.
Die polisie was net na die voorval omstreeks 02:15 op die toneel by Eskulaap Hotel en het op ‘n patroonpunt wat vermoedelik vanuit ‘n 9mm wapen gevuur is, beslaggelê.
Foto’s wat deur die bestuur van die hotel verskaf is, dui daarop dat die koeël eers die palisade voor die gebou getref het, weggeskram het en toe deur die venster van die ontvangslokaal tot teen een van die mure binne die kantoor getrek het.
‘n Personeellid wat nagskof gewerk en op ‘n stoel in die kantoor gesit het, is rakelings gemis.
Volgens die bestuurder van Eskulaap Hotel, Francois Robbertze, het die veiligheidswagte by die hotel bevestig dat hulle eers twee skote verder af in die straat gehoor het, waarna die derde skoot voor die hotel afgevuur is en ‘n vierde skoot verder in die straat.
“Ons geslotebaanbeeldmateriaal wys hoe ‘n voertuig in die straat verbyry op dieselfde tydstip as wat die skote afgevuur is en my afleiding is dat die skieter nie ‘n spesifieke teiken in gedagte gehad het nie,” vertel Robbertze en voeg by dat hy verlig is dat niemand getref is nie.
Polisiewoordvoerder Lesiba Ramoshaba is om kommentaar genader maar dit was teen publiseringstyd nog uitstaande.




