Kruinies Rugby Club maak veters vas vir volgende seisoen
Alle spelers word uitgenooi om die oefensessies by te woon en by die klub aan te sluit ter voorbereiding van die 2023 rugbyseisoen.
POLOKWANE – Kruinies Rugby Club (KRC) het vandeesweek met hulle voorbereiding vir die 2023 seisoen begin.
Oefeningsessies word op Dinsdae en Donderdae by Curro Heuwelkruin se velde om 18:00 gehou.
Volgens een van die afrigters, Dawie Marais, was 2022 ‘n reuse sukses vir die klub en hy reken dit is slegs die begin van nog groot dinge wat by die klub gaan gebeur.
In 2022 het KRC goeie welslae behaal toe hulle die Potties 10s-toernooi gewen het.
In die Noordstreekliga het KRC Young Guns die derde ligafinaal teen Nkowankowa met ‘n telling van 31-7 gewen en het as trotse onoorwonne span uit die stryd getree.
Dus verdedig hulle die derdeligatrofee suksesvol.
KRC 1 wen vir Potties in die finaal met ‘n telling van 81-0 om sodoende gekroon te word as tweedeligakampioene.
Twaalf KRC-spelers is tot die Noordstreekspan verkies wat teen die Blou Bul Platteland op Loftus Versfeld te staan gekom het.
In 2023 gaan KRC na die eersteliga opskuif en gaan teen drie spanne in die Noordstreekliga deelneem.
KRC nooi alle spelers wat belangstel om klubrugby te speel uit om by hulle aan te sluit.
Vir meer inligting skakel vir Marais by 082 527 9888, Arno Botha by 064 274 4690 of vir André Hay by 084 406 2074.




