Bosveld Blikkiesfees ten bate van PLS se Ystertjies
Dié fees was spesiaal omdat elke besoeker nie-bederfbare kos moes skenk as toegang om aan PLS se Ystertjies te skenk.
POLOKWANE – ‘n Paar weke gelede het die Hervormde Kerk Pietersburg ‘n unieke fees aangebied.
Die uniekheid aan die Bosveld Blikkiesfees is dat elke besoeker nie-bederfbare kos as ingangsfooi moet betaal.
Dié kos word dan aan die Ystertjies van Pietersburg Laerskool oorhandig.
Die Ystertjies is leerders wat behoeftig is en pouses kospakkies ontvang.
As daar klere en skoene is, word dit ook aan die leerders geskenk.
Die Blikkiesfees het vermaak vir oud en jonk gebied met ponieritte en speletjies vir die jong klomp en kunstenaars soos Mia en Jaycee Crause, ‘n biertent en vele stalletjies vir die volwassenes.
Voormalige inwoner van Polokwane, Little Miss Mini Teen South Africa 2022, Lynnmarie Ströh, het van Phalaborwa af gereis om ook ‘n bydrae in die vorm van blikkieskos te maak.
Vrydagoggend, tydens die jaarlikse kerkdiens is die nie-bederfbare kos deur die kerk aan die skool oorhandig.
Skoolhoof, Jacques Bartlett het sy dank namens die skool teenoor die kerk uitgespreek.
“Ons is baie dankbaar vir die skenking. Dankie ook vir elke persoon wat dit moontlik gemaak het.”




