Charlie Vorster lei Suid-Afrikaanse potspelspan in kampioenskappe
Die Suid-Afrikaanse span was losvoor met 11 goud, 13 silwer en agt brons medaljes, waarvan ses vroue goue medaljes om hul nekke gehang het.
POLOKWANE – Die stad was weereens in die kollig toe plaaslike sportadministrateur Charlie Vorster die Suid-Afrikaanse vrouepotspelspan verlede maand as bestuurder na die wêreldpotspelkampioenskappe (Blackball International World Championships) in Tangier, Marokko gelei het.
Die Suid-Afrikaanse span wat uit 86 mans- en vrouelede bestaan het, was die grootste span wat aan die kampioenskappe deelgeneem het en het met individuele spelers en spanne van onder andere Australië, Spanje, Ierland, Marokko, Zambië, Engeland, Tunisië en die VS kragte gemeet.
Die Suid-Afrikaanse span was losvoor met 11 goud, 13 silwer en agt brons medaljes, waarvan ses vroue goue medaljes om hul nekke gehang het, terwyl ses ander silwer medaljes uit Suid-Afrika se 32 medaljes ingepalm het.

“Marokko het 19, Engeland sewe, Australië ses, Ierland drie, Spanje twee, Zambië twee en Tunisië slegs een medalje verwerf. Die VS het geen medaljes verwerf nie.”Die ondervinding wat die spelers opgedoen het terwyl hulle teen die beste ter wêreld meegeding het, was van onskatbare waarde en vir my ‘n onvergeetlike ervaring. Die samesyn, nuwe vriende en hoogtepunte in die wedstryde sal my altyd bybly,” sê Vorster.
Vorster neem sedert 1993 aan dié sportsoort deel en was ook in 2018 die Proteas se o/18-meisiespan se bestuurder vir die toer na die wêreldkampioenskappe in Bridlington in Brittanje.
Sy het haar Limpopokleure as speler in 2006 verwerf en was al verskeie kere bestuurder van die Limpopo provinsiale ligaspanne en die Limpopospan op nasionale vlak.
Haar man, Naas is ook ‘n bedrewe potspelspeler en was in 2014 lid van die Proteaspan wat na Skotland getoer het.
Volgens Charlie was een van die hoogtepunte van haar besoek aan Marokko, ‘n ontmoeting met Mike Massey, wat sy as een van die wêreld se beste potspelspelers beskou.
Charlie sê dat sy potspel beslis as sportsoort vir alle ouderdomsgroepe sal aanbeveel.
“’n Mens moet die regte tegniek vir die oomblik hê en baie strategies en geduldig wees, maar gereelde oefening bly steeds die belangrikste. Potspelspelers is soos ‘n groot familie en almal ondersteun mekaar,” vertel Charlie.
Volgens Charlie moet ‘n sportadministrateur ‘n gevorderde kennis van die reëls van die spel en die gedragskode vir spelers hê en sorg dat dit nagekom word.
“Jy moet as spanbestuurder dissipline en respek afdwing en leiding gee en motiveer. Jy is ook verantwoordelik om spangees te bou en moed in te praat.”
Tangier is ‘n stad in die noorde van Marokko met sowat 850 000 inwoners.
Dit is geleë op die Noord-Afrikaanse kus by die westelike ingang na die Straat van Gibraltar, waar die Middellandse See en die Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet naby Kaap Spartel.




