Die Bothas verruil Polokwane vir die Jakarandastad
MC Botha, wat van 2015 af saam met sy gesin wortels in die stad geskiet het, sien uit vir die volgede hoofstuk in sy loopbaan by Mediclinic.
POLOKWANE – MC Botha, wat vir sewe jaar as hospitaalbestuurder by Limpopo Mediclinic werksaam was, en sy gesin verruil eersdaags die stad vir Pretoria nadat hy ‘n pos as streekbestuurder in dié hospitaalgroep aanvaar het.
Die Botha-gesin het in 2015 in die stad kom nesskrop en spoedig diep spore in die skool- en kerkgemeenskap – én mense se harte – getrap.
Wanneer Januarie aanbreek, is dit MC wat egter eerste sy pad na die Jakarandastad gaan vind.
Hy is onlangs aangestel as Tshwane-streekbestuurder oor 12 Mediclinic hospitale – in Tswane, Limpopo en Noordwes.
Dis ‘n veer in sy hoed en sprekend van sy bestuurstyl dat Mediclinic Limpopo elke jaar onder die top 10 hospitale geëindig het in terme van Spesifieke Prestasieuitkomste (KPI’s) – soms ook in die top vyf.
Dié missie om deurlopend hoë standaarde te handhaaf, is wat van ‘n hospitaal ook ‘n suksesvolle besigheid maak, vertel hy.
“Mediclinic moet altyd die eerste keuse wees. Ons kliënte moet weet ons is die beste, en dat hulle in die beste hande is wanneer hulle by ons ingeboek is. Ons wil goeie vertroue inboesem.”
Daar sal altyd uitdagings wees, maar ‘n mens moet daarrondom werk en dit nie as verskonings gebruik nie, voeg hy by.
MC was in ‘n histories beduidende tyd aan die plaaslike stuur – deur die Covid-19 pandemie.
“Die benadering wat ek gevolg het, was om krisisbeheer goed toe te pas. Daar is ‘n goue lyn van uitstaande werk wat deur die hospitaal loop en ‘n mens moet jou hele span betrek – van bestuurslede tot dokters en verpleegsters. Hoe meer hulle betrek word, hoe meer effektief is die span en hoe meer suksesvol is jy. ‘n Mens moet elke lid van jou span se beste eienskappe tot voordeel van die hospitaal en die span gebruik.”
Sy regverdigheid as bestuurder het hom gewild gemaak onder kollegas, maar hy meen dit is allesbehalwe ‘n gewildheidskompetisie.
“Ek voel bevoorreg om te weet ek word as regverdig beskou. Om in ‘n bestuursposisie besluite te neem, is nie maklik nie. Alles moet voorafgegaan word met ‘n doelbewuste aksie om regverdig te wees. Ek lê baie klem op spanwerk – ‘n leier moet elke persoon tot sy of haar volle kapasiteit inspan.”
Op ‘n persoonlike vlak weeg die gesin se weggaan swaar.
“Die afskeid gaan die moeilikste wees. Toe ons hier ingetrek het, was ons vreemdelinge, ons het niemand geken nie. Maar as jy as individu bereid is om betrokke te raak, gaan die gemeenskap jou absorbeer en jou omarm. Ons het op baie komitees gedien en vinnig vriende gemaak.”
Sy vrou, Annatjie en dogters Illa en Lumé gaan aanvanklik in Polokwane aanbly, tot die logistieke reëlings afgehandel is en die laaste groete gegroet is.
Ook vir Annatjie, wat die plaaslike eienaar van BioLink is en deeltyds ook as rekenmeester gewerk het, gaan die groet bittersoet wees.
Dit is veral hulle vriende, en die gemeenskap van Laerskool Pietersburg-Oos wat hulle swaar gaan agterlaat, vertel sy.
“Dit was vir ons lekker om ‘n bydrae te kon maak daar waar ons betrokke was, en ons kan net hoop om weer so ‘n wonderlike vriendekring en skool te kan hê.”
In hulle nuwe hoofstuk, sien sy uit om vir MC te ondersteun in sy nuwe rol.
“Dit gaan lekker wees om te sien hoe hy weer ‘n verskil maak waar hy is. Hy is goed in wat hy doen, en dit gaan lekker wees om te sien hoe hy net nog groter hoogtes gaan bereik.”
Mooiloop, Botha-gesin, en tot weersiens: Hou die blinkkant bo!




