Local News

Diensbare Lavo-né trap diep spore in ander se lewens

Lavo-né het dadelik 'n plan begin beraam toe sy kankerleyer Claudette Findlay se storie gehoor het.

MOKOPANE – Lavo-né Jansen van Rensburg, ‘n gr. 8-leerder van Hoërskool Hans Strijdom het ‘n diensbare hart vol passie, liefde en lojaliteit om mense in nood te probeer help.

“Toe ek gehoor het die kanker is weer aktief in Claudette se liggaam was my eerste gedagte dat as dit ek was sou ek wou gehad het iemand moet my help en ondersteun, want elke bietjie kan help en dit is een van die hoofredes hoekom ek so geïnspireer is om haar te help. Behandel ander soos jy graag behandel wil word,” sê Lavo-nè.

Kankerleyer Claudette Findlay is in Modimole gebore en het aan Hoërskool Nylstroom in 2014 gematrikuleer.

In 2017 het sy besluit om haar vlerke te sprei waar sy in Amerika by die Joneses-gesin aangesluit het as ‘n au pair.

Na 14 maande by die gesin is sy in die nagtelike ure na die naaste hospitaal gehaas waar sy per toeval ‘n Suid-Afrikaanse dokter gekry het om haar te help.

“Ek was gediagnoseer met T-Cell Lymphoblastic Leukemia op 1 April, 2018; ek was 22 jaar oud. Na my behandeling in die VSA by die Benihoff Hospital for children in San Francisco vir 43 dae, was dit veilig om terug te vlieg en aan te gaan met behandeling in Suid-Afrika.”

Claudette vertel dat dit vandaar ‘n optraande pad was.

“Elke Vrydag vir ‘n jaar het ek na Steve Biko Hospitaal toe gegaan vir behandeling.”

In 2019 het sy ‘n terugslag gehad.

Gelukkig was daar lig aan die einde van die tonnel toe haar mediese fonds in werking getree het.

Claudette is in die Pretoria Oos Hospitaal opgeneem.”

Ek was geskeduleer vir beenmurgoorpanting maar die medies het dit nie goedgekeur nie.”

Die uitdaging het nie daar gestop nie.

In 2020 was sy in ‘n koma weens sepsis en ‘n jaar later word sy gediagnoseer met Central Nervous System Disease.

Claudette het steeds aanhou veg om fondse bymekaar te maak en het nuus ontvang dat sy weereens geskeduleer is vir beenmurgoorplanting verlede jaar, maar twee weke voor die geskeduleerde operasie het die dokters haar meegedeel dat die kanker versprei het na haar brein en rug.

“Die dokters het vir my gesê dat daar nog net een opsie oor is.”

Claudette het Oktober verlede jaar met radiasie begin.

Van die 18 sessies kon sy nog net 15 doen.

“Dit was net te erg om klaar te maak. Ek sukkel steeds na drie maande dat my long reg werk, my spiere ophou krampe kry en dat my hare teruggroei.”

Hierdie hartroerende verhaal het Lavo-né aangepor om te help met die mediese koste.

“Ek het besluit om hierdie gedagte eerste met my ma te deel wat my 100% ondersteun het met my keuse om Claudette te help. Met behulp van juffrou Antoinette Göldner en die toestemming van die skoolhoof, meneer Rinus de Jager, het my eerste geldinsamelingsprojek afgeskop in die vorm van ‘n muntlegging. Ons het aan die skool bekend gemaak oor die muntlegging en almal het skouer aan die wiel gesit en gehelp insamel. Ek is baie trots om te kan sê ons het regtig goed gevaar en kon ek Claudette help met R4 278.20. ‘n Plaaslike vakansieoord het na die muntlegging vir ons ‘n prys geskenk. So ons het lootjies verkoop en ‘n totaal van R1 640 ingesamel.”

Claudette bevestig dat die geld wat sy ontvang aangewend word om haar mediese fonds se onkoste te dek.

Dit help ook met die vervoer en verblyf na die hospitaal.

“My fondse word deur ons prokureur Annemarie Kotze gehanteer.”

Om self ook ekstra geld te maak verkoop Claudette fudge by verskeie besighede in Nylstroom, Pretoria en Vaalwater.

“Ek wil graag vir Lavo-né sê: Hou aan om so ‘n goeie hart te hê, dit maak jou uniek en niemand kan dit van jou af wegvat nie. Om te kan gee is ‘n groot vooreg en vir my om te kan ontvang is ‘n groot seën, baie dankie.”

Vir Lavo-nê gaan dit nie hier ophou nie.

“Ek sal dit definitief weer doen, dit was nie die laaste keer wat ek iemand gaan help nie. Ek het ‘n groot passie om mense te kan help met dit wat ek kan. Ek het ‘n liefde om te doen wat ek doen en ek bly lojaal teenoor elke projek. Elke projek is ‘n nuwe storie en ‘n nuwe agtergrond wat ek nie geken het nie. Dis die lekkerste gevoel in my hart om diensbaar te wees en ‘n verskil te maak.”

Lavo-né voeg by dat mense nooit ‘n boek volgens sy omslag moet oordeel nie.

“Jy weet nooit waardeur iemand gaan voordat jy nie in hulle skoene geloop het nie. As die Here iets op jou hart lê moet nie stilbly oor dit nie. Doen dit want jy kan dalk net iemand se lewe red deur jou dade. Wees jy die verskil in iemand se lewe. As jy iemand is wat graag wil help trek jou werkskoene aan en los jou spore.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button