Disse op die Kerstafel regoor die wêreld
Elke land het sy eie tipe mense, en so ook hulle eie tradisies wat die Kerstyd, en veral die maaltye tydens die feestye, spesiaal maak.
POLOKWANE – As jy rondvra, sal baie mense sê kos is een van die belangrikste dinge wat Kersdag spesiaal maak.
Regoor die wêreld word daar gekook en gebak om heerlik te smul aan ‘n kersmaal.
Elke kultuur het ‘n ander hoofdis, iets wat definitief op die tafel moet wees wanneer dié spesiale dag gevier word.
Vir party is dit tradisie, en vir ander is dit net ‘n lekker gebruik.
In ‘n Afrikaanse huis is daar ‘n skaapboud en hoender op die tafel, gewoonlik koud, saam met slaaie.
In Venda wonings is mopani-wurms ‘n gunsteling om voor te sit en baie Engelse Suid-Afrikaners geniet ‘n geroosterde vark en ‘n groot verskeidenheid slaaie.
Die Pedi’s eet graag ‘n driegang maaltyd.
In Amerika is die tradisionele dis ‘n kalkoen en eggnog aangevul met feestelike koekies.
In Poland is geroosterde beesvleis of kalkoen gewild.
Tradisioneel dien hulle ook 12 disse op wat die 12 apostels verteenwoordig.
Karp, sampioensop en koolrolletjies is maar ‘n paar items wat dié disse uitmaak.
In Italië vier hulle die fees van die sewe visse, wat sewe tipes seekos op die tafel beteken.
Van die mees gewilde disse is kabeljou, garnale en seekat.
Die Franse smul aan oesters en foie gras.
Die Duisters eet ‘n Weihnachtsgans, oftewel ‘kersfeesgans’.
In Engeland is maalvleis pasteie aan die orde van die dag en in Swede eet hulle ingelegde haring, gekookte salm asook frikkadelle, brood, beetslaai en lewer patee.
Noorweë se spyskaart, sal baie dalk voel, is nie vir elke mens nie, aangesien die aansittendes ‘n gestoomde skaapkop elke jaar in die oë kyk.
In Japan is die gekose ete KFC, en aangesien die Chinese nie regtig Kersfees vier nie, het hulle ‘n tradisie waar hulle appels as geskenke gee.




