Local News

Kinders gaan kuier vir Kersvader by sy huis in Mokopane

Met lekkergoed geskenkpakkies en Kersliggies het die Scholtz-gesin omtrent elke kinderhart in die dorp verbly.

MOKOPANE – Die huis in Rabestraat wat getooi is in duisende helderkleurige Kersliggies en verskeie Kersbeelde het nie net Kersvader en sy helpers gelok nie, maar ook kinders van die dorp.

Opgewonde kinders het Vrydagaand gehuppel tussen die besoekers om ‘n lekkergoed geskenkpakkie te ontvang.

Marì Scholtz, eienaar van Poppelop’s, haar man Mark, en die kinders het vanjaar besluit om terug te gee aan die gemeenskap.

“Mense het die afgelope paar jaar soveel moeilike tye beleef en ons as gesin het gevoel om terug te gee aan die gemeenskap.”

Sy voeg by dat sy en haar gesin jaarliks daarna uitsien om die huis met liggies te versier.

“Ons hou van liggies en wou dit deel met ander, maar ons wou ook anders wees.”

Sedert die begin van Desember het die gesin elke Vrydag soos Kersvader en sy helpers aangetrek en lekkergoed geskenkpakkies uitgedeel aan die kinders.

Marì vertel dat daar die eerste Vrydag 72 kinders opgedaag het.

“Die opgewonde gesiggies en die reaksie was vir ons die moeite werd om dit weer en weer te doen.”

Die tweede Vrydag het die weer nie saamgespeel nie.

Dit het gereën en die liggies was nat.

“Daar was kinders wat opgedaag het en ons harte was seer omdat ons hulle nie kon help nie.”

Die derde Vrydag het daar ‘n rekordgetal van 104 kinders opgedaag.

“Wat my sal bybly is die seuntjie wat uit die kar gehardloop het, en baie verbaas was dat Kersvader in dieselfde dorp as hy bly.”

Die gesin se aansteeklike vriendelikheid het selfs die grootmense se opgewondenheid aangevuur.

“Ons wil volgende jaar groter gaan en meer kinderharte bly maak.”

Marì, Mark en die gesin wens elke inwoner geseënde en voorspoedige feesgety toe.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button