Jenilee ‘n maatskaplike werker om ander se lewens te verbeter
Jenilee Lawrence het haar verlede as boublokke vir haar toekoms gebruik om ander by te staan en 'n verskil te maak.
POLOKWANE – Ons almal se verlede speel ‘n rol in ons toekoms, of ons dit nou wil erken of nie.
Die verskil kom in by met watter houding jy jou toekoms ingaan; gaan jy weghardloop of jou vrese in die gesig staar?
Jenilee Lawrence het besluit om haar verlede te gebruik om vir haar ‘n toekoms te bou.
Sy het as kind in pleegsorg beland en is onlangs as die maatskaplike werker by SAVF aangestel.
“Ek het in Polokwane groot geword, maar later by my tannie in Pretoria gaan bly. Hier het ek my skoolloopbaan voltooi waarna ek na die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus waar ek vir maatskaplike werker studeer het.”
Haar eerste werk was in Vereniging waar sy met kinderbeskerming gewerk het.
Haar passie lê egter by bejaardesorg en dus het sy besluit om terug te keer na Polokwane waar sy haar ouma kan versorg.
“Toe ek my loopbaan keuse moes maak, was die keuse tussen onderwys en maatskaplike werker. Die Departement van Sosiale Ontwikkeling het beurse aangebied vir leerders wat vir maatskaplike werk wil gaan leer. Dit was vir my ‘n stoot in die regte rigting. Aangesien ek self in pleegsorg was en my jonger sussie in Abraham Kriel Kinderhuis, wil ek nou mense in dieselfde omstandighede help en bystaan.”
Jenilee het, na haar terugkeer na Polokwane vir ‘n paar maande as maatskaplike werker by Pietersburg Laerskool gewerk.
“Met die wat ek self na my ouma omsien, is dit vir my makliker en lekker om met die bejaardes te werk. Ek is betrokke by berading of terapie vir die mense, ek moet die Demensie-pasiënte monitor en assesserings doen en dan ook help met Sassa of binnelandse sake-probleme.”
Sy is ook betrokke by die vrywilligers, behartig bemarking, sowel as aktiwiteite en projekte met die bejaardes.
“Die mees uitdagendste van my werk is om almal se trauma’s te hanteer. Almal dink jy moet die probleme wat hulle dikwels self veroorsaak het, binne oomblikke reg maak. Daar is ook min hulpbronne om ons as maatskaplike werkers te help. Ek beoog om verhoudings en verbintenisse te bou met al die inwoners.”




