Vang al die goeie herinneringe só vas die vakansie
'n Prentjiedagboek is 'n kreatiew uitlating en 'n goeie manier om die beste herinneringe te onthou, sê kunsterapeut Marlene Hoogendyk.

POLOKWANE – Vakansies is nie net vir rus na ‘n besige jaar nie; dit is ook vir tyd saam met die familie, om herinneringe te maak en om nuwe dinge te beleef.
Maniere om jou vakansie te onthou is om foto’s te neem, ofom in ‘n dagboek te skryf.
Polokwane Review het met kunsterapeut Marlene Hoogendyk gesels oor wenke om ‘n prentjiedagboek die vakansie te hou.
“Dagboeke hoef nie altyd net uit woorde te bestaan nie. Om ‘n dagboek te hou, is vir baie mense terapeuties en dus kan jy jouself uitleef in die dagboek. So is ‘n prentjiedagboek die ideale aktiwiteit om as familie saam te doen,” vertel Marlene.
Sy sê daar is baie verskillende materiale, soos hardebandboeke met wit bladsye, beskikbaar.
‘n Mens kan selfs van scrapbooking materiale en tegnieke gebruik maak in ‘n prentjiedagboek.
“Hierdie dagboek is ‘n positiewe dagboek. Skryf oor die goeie goed wat gebeur het en waarin jy goed gevaar het. Plak foto’s of objekte soos vere en blare in die boek en skryf rondom dit.”
Dit is nie nodig om vreeslik kreatief te wees nie, want dit is ‘n persoonlike projek waar jy uiting aan jou gevoelens kan gee.
Aan die einde van die vakansie en selfs later van tyd kan ‘n mens terugkyk en al die goeie goed onthou.




