Die Krüger-familie is trots om in mekaar se voetspore te volg
Die Krüger-familie is baie geheg aan mekaar, en die een groot belangstelling wat almal deel is die mediese wêreld.
POLOKWANE – Wanneer die Krüger-familie rondom die eetkamertafel sit, draai die gesprek dikwels in die rigting van die mediese wêreld en alles wat daarby saamgaan.
‘n Mens kan dit ook verstaan – daar is immers nie minder nie as vier dokters in dié gesin.
Op 82 is dr. Johan nog elke oggend by die spreekkamer om met pasiënte te konsulteer.
Hy is in Pretoria gebore en het aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer.
Hierna het hy by die Universiteit van Pretoria (Tuks) se mediese fakulteit aangesluit. In 1963 voltooi hy sy studies.
“Nadat ek my huisdokterjaar voltooi het, het ek na Polokwane verhuis waar ek in 1972 my eie praktyk oopgemaak het. Ek het ‘n huis in Jorissonstraat gekoop en omskep in konsultasiekamers. Voor dit was ek vir 10 jaar aan die Pietersburg Provinsiale Hospitaal verbonde waar ek wonderlike ondervinding opgedoen het.”
Johan se pa was ‘n doktor in ingenieurswese wat in die vyftig- en sestigerjare as hoofuitvoerendebeampte van Iskor werksaam was.
Johan is getroud met Lizette wat vir jare ‘n Engelsonderwyser by Hoërskool Pietersburg was.
Die egpaar se seun, Mannie, het besluit om in sy pa se voetspore te volg en het ook sy mediese graad by Tuks verwerf.
Nadat hy sy huisartsjaar by Grootte Schuur Hospitaal in 1989 voltooi en sy diensplig voltooi het, het hy by Johan in die praktyk aangesluit.
“Ons het vir 25 jaar saam gepraktiseer voordat ek in 1992 my eie praktyk oopgemaak het. Tans is ek reeds 31 jaar in die privaat praktyk.”
Nadat Johan afgetree het, het hy gereeld vir Mannie as locum ingestaan en later het hy as locum by Dr. Draad Hattingh se praktyk ingestaan.
Toe daar ruimte by Hattingh se praktyk beskikbaar raak, het Johan voltyds weer begin praktiseer.
Ook Mannie is getroud met ‘n onderwyser, Marinda.
Die liefde vir die wêreld van gesondheid het egter nie by Mannie gestop nie.
Sy en Marinda se dogter, Christine (27) het pas haar gemeenskapsdiensjaar in Oudtshoorn voltooi.
Ook sy het haar kwalifikasie by die Universiteit van Pretoria voltooi nadat sy by Hoërskool Pietersburg haar skoolloopbaan afgelê het.
“Ek het ‘n geleentheid gekry om saam met my pa te praktiseer en dit met albei hande aangegryp. Ek dink dit is ‘n groot voorreg om saam met hom te werk.”
Alhoewel Mannie nooit werk huis toe geneem het nie, het Christine reeds vroeg besef daar is opofferings wat hy en die gesin maak.
“Dit was nie vreemd vir ons om as vanweë my pa se beroep, net ‘n week vakansie in Desember te hê nie. Medies is iets waarmee ek grootgeword het.”
Christine vertel dat alhoewel sy alle aspekte van die veld geniet, sy veral ‘n belangstelling het in pediatrie asook die aspekte van vrouegesondheid.
Haar broer, Johan is tans besig met sy gemeenskapsjaar in George nadat hy ook by Tuks studeer het.
Sy vertel hy is net ‘n jaar jonger as sy en behalwe vir die feit dat hulle baie na aan mekaar is, het hulle heelwat gemeenskaplike belangstellings.




