Die skooltassieprojek besorg skoolbenodighede aan behoeftiges
Die projek, wat deur Touch of Helping Grace se span behartig word, sorg dat behoeftige kinders in Mokopane elke jaar die nodige items vir skool het.
MOKOPANE – Behoeftige kinders het verlede Saterdag tydens Touch of Helping Grace se skooltassieprojek skoolklere en skryfbehoeftes ontvang vir die nuwe jaar.
Altesaam nege hoërskool- en agt laerskoolleerders was voorsien met die nodige skryfbehoeftes en skoolklere.
Sommige leerders het selfs skooltasse ontvang.
Dit is die vyfde jaar wat hierdie nie-winsgewende organisasie skoolbenodighede versamel om aan die behoeftige kinders in die dorp te oorhandig.
Hester Nieman van dié organisasie vertel dat sy agtergekom het dat daar ‘n groot nood vir skoolklere en skryfbehoeftes is en nie almal kan dit bekostig om eerstehandse produkte aan te koop nie.
“Kinders is soms wreed met dié wat nie ordentlike skoolklere en -behoeftes het nie. Dit is tog vir elke kind lekker om skool toe te gaan met die nodige skoolbehoeftes.” sê Nieman.
Daar is egter nog ‘n tekort aan skooltasse, handboeke en skryfbehoeftes, veral hardebandboeke, dagboeke of huiswerkboekies, asook eksamenblokboeke.
Nieman wil namens Touch of Helping Grace dankie sê aan elkeen wat ‘n bydrae maak elke jaar.
“Dankie ook aan elke skenking, maak nie saak hoe klein dit is nie.”
Sy dra ook haar dank op aan die Hemelse Vader wat die projek elke jaar moontlik maak.
“Baie dankie aan elkeen in die gemeenskap wat ons altyd ondersteun en ‘n bydrae lewer, al is dit net om ons plasings op sosiale media te deel, dit maak ‘n groot verskil en help ons om ons werk te kan doen.”
Indien inwoners skenkings het om te gee kan dit by Touch of Helping Grace se kantore in Geyserstraat afgelewer word of skakel vir Hester by 078 654 4748.




