Johann: ‘n Skoon omgewing begin by my en jou
Johann Loubser is 'n inwoner vir wie die stand van die sypaadjies 'n steen des aanstoots is, en hy het besluit om self 'n plan te maak.
POLOKWANE – Wanneer ‘n mens deur die strate ry, is dit opmerklik hoe baie gemors langs die pad lê, en in sommige gebiede danksy die afgelope tyd se goeie reën, raak die sypaadjies oortrek van gras asook onkruid.
Johann Loubser is ‘n inwoner vir wie die stand van die sypaadjies ‘n steen des aanstoots is, en hy het besluit om self ‘n plan te maak.
“Ek het reeds in 2019 begin om plekke in my onmiddellike omgewing skoon te maak. Die doel was om hopelik die munisipaliteit aan te spoor om dieselfde te doen. Ek gaan nou elke Saterdag van so 07:00-11:00 en maak De Wetrylaan skoon. Ek staan reeds 05:00 op om die bossies en onkruid met gif te gaan spuit, dan trek ek dit makliker uit.”
Hy sê die munisipaliteit het wel al in die verlede kom skoonmaak, maar dit gebeur oor die algemeen nie baie dikwels nie.
“Daar is verskriklik baie vullis, wat bydra tot die verstopping van stormwaterpype. Ek wil met my poging graag bewusmaking skep en wys dat ‘n gewone burger ook ‘n verskil kan maak. Dit sal goed wees as almal die area voor hulle huise kan skoonhou.”
Johann beoog om nie net in De Wetrylaan sy stempel af te druk nie, maar ook Bendorrylaan.
“Polokwane was eens so ‘n mooi, goedversorgde stad en nou is dit ‘n seeroog vir enige besoeker. Ek beoog om ook die sypaadjies se rante geleidelik te verf.”




