Local News

God gee kinders soos Nico vir spesiale omgeemense

Nico Lourens (6) is gebore met hidrokefalus wat beteken vog bou op in die ventrikels van sy brein. Hy is ook met spastiese serebrale gestremdheid gediagnoseer en kan as gevolg van stywe beenspiere nie loop nie.

POLOKWANE – Vicky Viviers is dankbaar vir elke dag, ongeag die feit dat sy ‘n gestremde seun het waarna sy omsien.

Nico Lourens (6) is gebore met hidrokefalus wat beteken vog bou op in die ventrikels van sy brein. Hy is ook met spastiese serebrale gestremdheid gediagnoseer en kan as gevolg van stywe beenspiere nie loop nie.

Dit keer hom egter nie om vrylik op sy knieë rond te beweeg nie.

“Hy kan nie plat op sy voete staan nie en die boonste deel het al ‘n knop soos hy kruip. Ek stimuleer hom deur oefeninge met hom te doen, met die hoop dat sy toestand sal verbeter,” sê sy ma.

Nico het vrugwater ingekry tydens geboorte wat neonatale sepsis teweeggebring het.

Vicky vermoed hy het te veel suurstof gekry, wat breinskade veroorsaak het.

Hy is met katarakke op beide sy oë gebore en van al die medikasie wat hy al moes kry, is sy boonste tande heeltemal weggevreet. Sy katarakke is op die ouderdom van agt maande verwyder.

Al is Nico amper sewe jaar oud, funksioneer hy steeds as ‘n baba.

Vicky sê sy kan nie voltyds werk nie, aangesien Nico tuisversorging vereis.

Hulle het ‘n sterk band en sy kan haar lewe sonder hom nie indink nie.

“Hy is ‘n liefdevolle kind wat my net plesier verskaf. Hy dra nog doeke, drink bottel en eet sagte kos. Hy het twee ouer susters en ‘n broer, maar hulle sukkel om hom te verstaan. Hy sê soms woorde, maar ons verstaan dit glad nie.”

Nico raak vinnig verveeld wanneer hy televisie kyk, maar hou van motors wat vinnig ry. Hy speel ook graag bal.

“Ek sal my lewe saam met Nico nooit wil verruil nie. God gee kinders soos hy net vir spesiale mense. Partydae gaan dit goed, ander dae minder goed. Ek sal graag sy tande en voete wil regkry, maar finansieel is dit nie altyd maklik nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button