Local News

Nylriviervlakke hoogste in jare, sê boere

Floris Booysen, die voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie, bevestig dat die Nylrivier tans breed loop en vragte water wegvoer na die Mogalakwenarivier.

MOKOPANE – Die Nylrivier, wat agt jaar gelede laas in vloed was, het onlangs sterk afgekom.

Floris Booysen, die voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie, bevestig dat die Nylrivier tans breed loop en vragte water wegvoer na die Mogalakwenarivier.

“Die eerste sarsie reën wat ons gehad het in die opvangsgebied, in die berge na Modimolle se kant toe, het die vloedwater aangespoor. Na vier weke van geen reën in Januarie het die rivier ietwat stilgestaan en die watertafel kans gegee om te sak. Die tweede sarsie reën het die rivier in al sy glorie laat afkom.”

Hy voeg by dat as die Nylrivier eers vol is, is dit gewoonlik die tendens dat “hy sal bly loop”.

“Ek het al die Nylrivier in sy glorie beleef maar so hoog soos hy nou is het ek baie lanklaas gesien. Hy het al twee maal oor die pad geloop tussen Roedtan en Mookghopong en ek sien dat die sterk hoë stroom ook nou teen die duikslote (culverts) druk. Ek vermoed dat van die damme in die opvangsgebied gebuk gegaan het onder walle wat meegegee het en dus die vissermanne se droom laat bewaarheid met barbers en kurpers wat deur die strome afgevoer word.”

Hy meen vissermanne is tans orals langs die rivier doenig waar hulle groot visse uithaal.

“Die water het die watervoëllewe aangevuur en dis nogal ‘n belewenis om die verskillende voëls in aksie te sien. Die damme loop oor en die riviere vloei sterk, en dis behoorlik ‘n gesig om te sien.”

Booysen bevestig dat die afgelope reënseisoen nie skade veroorsaak het aan die omgewing nie.

“Dit is eintlik verblydend hoe mooi die jaar sover lyk vir ons boere,” voeg hy by.

Hy sê verder ook dat as daar nie snaakse goed gebeur met die weersomstandighede hierdie komende twee maande nie dan behoort die boere ‘n top oes te hê op die springbokvlakte.

Hy sê hy het onlangs met boere in die Phalala-omgewing gepraat. “Daar is hier en daar geringe waterskade, maar nie te erg nie. Die damme is lekker vol en die riviere gallop mooi so die vooruitsigte is positief. Hier op die vlakte het van die kontoerwalle so ‘n bietjie skade gely, maar dit is baie beter as droogte. Oor die algemeen is die vooruitsigte positief.”

Booysen voeg by dat die weiding welig groei en ‘n groot verskil maak aan die voer vir die vee.

“Ek het lanklaas die wêreld so mooi gesien soos nou. Maar dit gaan ons weer voor ‘n uitdaging bring in die brandseisoen. So die boere sal vroetydig moet begin met voorbrande en brandbane.”

Mark Wreyford van Working on Fire moedig die omliggende boere en kleinhoewe-eienaars aan om vroegtydig te reël vir die brandbane.

“Ons span is beskikbaar vir brandbane en -paaie skoonmaak maar moenie wag tot die laaste nie. Die goeie reën veroorsaak welige groei wat groot moeilikheid kan maak.”

Jy kan die WOF-span kontak per WhatsApp vir besprekings by 083 650 7725.

Wreyford vra ook vir skenkings van enige vuurmaakhout vir opleidingsdoeleiendes.

“Ons benodig enige ou hout, selfs pallette is welkom.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button