Local News

Motorfietskringe verloor ‘n groot gees

Chris Neethling (62), wat vir jare deel van die motorfietsgemeenskap en rugbykringe is op 25 Februarie na 'n kort siekbed oorlede.

POLOKWANE – ‘n Bok vir sports en ‘n mensemens.

Só beskryf Chris Neethling (62), wat vir jare deel van die motorfietsgemeenskap en rugbykringe was se vriende hom.

Neethling is op 25 Februarie na ‘n kort siekbed oorlede.

Sy lewensmaat van die afgelope ses jaar, Ray Davids, sê Chris kon enigiemand rondom hom laat lag. “Hy het eendag by ‘n motorfietssaamtrek soos Shrek opgedaag en hy was vreeslik lief daarvoor om soos ander karakters aan te trek.”

Chris was al die jare in die mynbedryf, waar hy onder andere by Silikonmyn as “Mampoer” bekendgestaan het.

Hy was ook vir ongeveer 36 jaar aktief betrokke in die mototfietsgemeenskap waar hy al die klubs in Polokwane ondersteun het.

Neethling het in sy jonger dae vir Noordelikes Rugbyklub uitgedraf en ook later op die bestuur gedien.

“Chris was baie betrokke by liefdadigheid en sou help om insamelings vir die kinderhuise te hou. Hy sou ook seker maak hy leer jou ken as hy jou nie geken het nie. Elke mens was vir hom belangrik.”

Ronald Leach van die Roadhogs Motorfietsklub sê hy het Neethling in 2011 deur die Roadhogs ontmoet.

“Hy was ‘n man met ‘n sagte hart. Hy was ‘n pa vir ons jonger mans, die een wat altyd vir ons raad gegee het. Hy het ook nooit geoordeel nie. Hy sou daar wees as jy val, jou ophelp en in die regte rigting help. Sy dood laat ‘n groot leemte in die motorfietsgemeenskap.”

Met sy afsterwe het Neethling vir Just Numbers gery.

Die president, Ettiene Meintjes sê die klub gaan hom mis. “Rus sag Sarge Chris. Jy het jou eind-bestemming gehaal. Die pad was rof maar tog so lekker. Tot ons weer ontmoet. Love you long time. Love, Honour and Respect, my Boeta. Ride the Golden Highway like you own it.”

Noordelikes Rugbyklubvoorsitter, Tony Da Costa beskryf Neethling as ‘n passievolle mens.

“Hy was ‘n sagte mens, ‘n ‘gentle giant’. Hy was by elke vergadering en altyd betyds. Hy het geweet wat hy wou hê en was baie sosiaal. Hy het die kroeg bestuur, getransformeer en opgeknap. Ons het ‘n legende verloor.”

Neethling word verder oorleef deur sy ma, Lulu du Plessis en suster, Yvonne.

Sy begrafnis word hierdie Saterdag om 11:00 by Noordelikes Rugbyklub gehou.

Die motorfietsryers gaan 10:00 reeds by die Sasol N1 bymekaarkom en vandaar af na Noordelikes beweeg.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button