Haarkapper Pierre se eie mini-museum
Pierre Pienaar, beter bekend as Pierre Haarkapper, het reeds op 16-jarige ouderdom begin om allerhande snuisterye te versamel
POLOKWANE – Baie mense is versamelaars.
Of dit nou boeke, speelgoedkarretjies of sigaretaanstekers is, mense hou daarvan om dinge bymekaar te maak.
Pierre Pienaar, beter bekend as Pierre Haarkapper, het reeds op 16-jarige ouderdom begin om allerhande snuisterye te versamel. Alles wat hy egter bymekaarmaak het ‘n storie en Pierre vertel elke storie met geesdrif.

Waar meeste mense net een of twee verskillende items versamel, versamel Pierre alles en nog meer. Sy versameling word in sy huis, waar sy salon ook is, gehou.
Stap jy by die deur in word jy begroet met lapelwapens, foto’s en selfs ‘n spoorweggraaf. Jou mond hang behoorlik oop en woorde ontbreek jou. Jy weet nie waar om te kyk nie en probeer alles inneem.
Daar is ‘n wakis van 1842 en ‘n verskeidenheid kameras wat deur die eeue herinneringe vasgelê het.
Selfs eetstelle van Koningin Elizabeth wat sy gebruik het toe sy in 1967 Suid-Afrika besoek het. ‘n Modelweergawe van die eerste poskoets in Polokwane, kompleet met ou briewe, staan op sy spesiale plek.

Op pad kombuis toe staan die eerste konferensietafel van die Spoorweë en in die kombuis, en sy ma se kombuistafel van 200 jaar oud. Dit is ook hier wat jy die verskeidenheid blikke, panne en ‘n paar worsstoppers kry.
Items wat in die gewilde televisiereeks, Koöperasiestories gebruik was, het ‘n veilige hawe in Pierre se huis gevind en so ook die orrel van die eerste Rooms Katolieke Kerk se katedraal.
Daar is tikmasjiene, telefone en handsentrales met teelepels, foto’s en muurklokke teen die mure.

In sy sitkamer word jy begroet deur klere wat deur die Voortrekkers gedra is, boerseep en eetgerei. ‘n Voetstoeltjie wat met kole warm gehou kan word en ander items uit die Boereoorlog se tyd maak ook deel uit van die versameling. Melkkanne, roomafskeiers en tikmasjiene kan gesien word.
Daar is ‘n sitkamerstel vanuit die Franse Hugenote se era en ‘n baba-eetstoeltjie wat terugdateer uit die 1949.
Items soos ‘n model van die Voortrekker-monument en ‘n ossewa, pryk in die huis. ‘n Kersmaker, oliepomp van 1945 en selfs die heel eerste naaldwerkmasjien is hier.
As dit saam met die Voortrekkers oor die Drakensberge gekom het of in een van die oorloë was, kan jy vir seker weet, dit is in Pierre se huis. Grammafone en die houers waarin hulle naalde gebêre word is ook deel van die versameling.

In sy kamer staan die ysterbed waarin hy as baba geslaap het en sy eie katel is ‘n outydse ysterbed.
Op sy bed lê die nuutste toevoeging tot sy versameling, klere wat van meelsakkies gemaak is soos in die Boereoorlog se tyd. In die badkamer is skottels, bedpanne en waterkanne wat jare gelede gebruik is.
“Ek het altyd na die geskiedenisprogramme op Radio Pretoria geluister en was van jongs af geïnteresseerd in wat in die verlede gebeur het. My vriende en selfs vreemdes bring items wat ek by my versameling kan voeg. Ek het regtig ‘n wye verskeidenheid items.”
Foto’s bring nie geregtigheid aan wat in hierdie huis in Dorpstraat aangaan nie, en Pierre nooi mense om self in te loer. Op pad na buite vertel hy hy is nie getroud nie en het nie kinders nie, maar hy is gelukkig, hou van sy kliënte en sal eers as hy 125 jaar oud is aftree. En selfs in sy tuin is daar ‘n ossewawiel net voor jy die huis binnegaan.




