Magda: Ek’s dankbaar vir ‘n tweede kans
Selfs na 13 operasies, waartydens haar been met die twaalfde operasie geamputeer is, leef Magda Lombaard uit dankbaarheid.

MOKOKPANE – Vir haar tweede kans op die lewe is Magda Lombaard vandag inniglik dankbaar.
Maar selfs na 13 operasies, waartydens haar been met die twaalfde operasie geamputeer is, leef sy uit dankbaarheid.
Vier jaar gelede, op 25 November 2019 om 03:00 die oggend, sou haar grootste nagmerrie waar word.
Sy vertel dat op dié aand, twee van haar kinders by maats oorgeslaap het en net haar een dogter en ‘n vriendin tuis saam met haar was.
“Die kinders het ‘n tent in die sitkamer gebou en later aan die slaap geraak. Ek was deel van die Arend Buurtwag, en dié hulpgroep weet wat hulle doen om die gemeenskap veilig te hou.”
Sy vertel dat sy op die beste tye maar ‘n verstrooide mens is, wat telkens nie sou weet waar haar roepradio is nie, “maar toevallig het ek my radio daardie aand langs my bed gesit”.
Daardie aand het sy ‘n vreemde droom gehad, vertel Lombaard, en êrens wakker geskrik.
“Ek het gaan kyk of die kinders nog slaap en het die honde hoor blaf, maar my nie daaraan gesteur nie.”
Terwyl sy teruggestap het na haar kamer toe, het die honde egter weer geblaf.
“Ek het ‘n gevoel gekry dat iemand my dophou, en dis toe ek na die venster toe stap.”
Die oomblik wat sy deur die venster wou kyk, het ‘n man haar daardeur gegryp en teen die diefwering vasgedruk.
“Ek het weggeruk, maar die volgende oomblik net ‘n harde slag gehoor. Toe ek afkyk, het ek gesien my been bloei.”

Sy het dit reggekry om los te kom, en hulp oor die radio ontbied.
“Tussendeur die geraas het die kinders wakker geword. My dogter het gevra wat fout is, en ek het gesê ek is geskiet.”
Die buurtwag, sê Lombaard, was binne minute op die toneel.
Daar waar sy in die gang gelê en gewag het vir die ambulans, het sy nie gedink sy sou oorleef nie.
“Ek het net gesê ‘God, I need You to be real’. Ek het drie kinders, ek kan nie nou doodgaan nie.”
Niemand is nog vir die misdaad vasgetrek nie, maar vir Lombaard bring elke nuwe dag hoop.




