Back-a-Buddyrekening vir Loot Vogel
Loot is onlangs met rektumkanker (rektumkasinoom) gediagnoseer, wat intussen na sy geslagsdele versprei het.
POLOKWANE – Op die oog af lyk Loot Vogel (65) na ‘n gesonde man, maar begin jy gesels besef jy dit is ver van die waarheid af.
Loot is onlangs met rektumkanker (rektumkasinoom) gediagnoseer, wat intussen na sy geslagsdele versprei het.
Hy sê hy het reeds ‘n paar jaar gelede opgemerk daar is bloed in sy stoelgang, maar dit toegeskryf aan aambeie en nie dokter toe gegaan nie.
“Ek het glad nie pyn gehad nie, en was oortuig dis aambeie. Dit het my nie gepla nie, maar teen September 2021 het die pyn vererger en het ek besluit om dokter toe te gaan. Ek kon die dokter eers vroeg in Desember sien, en nadat hy my ondersoek het, het hy vir my gesê dit is nie aambeie nie, maar iets veel erger.”
Loot is na dr. Adrian Wreyford verwys en in Januarie verlede jaar is ‘n kolonoskopie gedoen en terselfdertyd ‘n biopsie, wat bevind het daar is ‘n kwaadaardige gewas in sy rektum.
Hy is van hier verwys na dr. Michael Heyns in Pretoria wat na ‘n ondersoek vir Loot gesê het die problem is selfs groter as wat hulle aanvanklik gedink het.
“Hy het vir my gesê hy sal dalk moet sny en dit kan beteken ek gaan ‘n sakkie sal moet dra. Die operasie sou in Julie 2022 plaasvind, maar ek het siek geword en kon dus nie geopereer word nie. Intussen het ek reeds sedert Januarie chemoterapie en bestraling ontvang. Die gewas het gekrimp tot so ‘n mate dat ek geopereer kon word, sou ek gesond wees.”
Intussen was die kanker dormant, maar in Februarie vanjaar het dit teruggekeer en moes die chemoterapieproses van voor af begin. Die kanker het versprei na die kliere in Loot se geslagsdele en dié druk die urienpypies toe tot so ‘n mate dat Loot nie kan urineer nie.
Hy is na ‘n uroloog gestuur wat ‘n biopsie gedoen het en ongeveer twee weke gelede het hy die nuus gekry dat die kliere kankerdraend is. Sy chemobehandeling is dadelik aangepas.
“Ek het, nadat ek gediagnoseer is, begin navorsing doen en op behandeling in Amerika afgekom. Dit word Jemperli genoem en is gemik op pasiënte wat herhalende of gevorderde endometriale kanker het. Alhoewel die behandeling in verskeie eerstewêreldse lande goedgekeur is, is dit nog nie in Suid-Afrika goedgekeur nie. Sou ek die behandeling in Amerika kry, gaan dit my R2,2m kos terwyl ek die inspuitings kan invoer teen R1.2m.”
Dié koste word nie deur mediese fondse gedek nie, en die gesin het besluit om geldinsamelingprojekte te hou om die geld in te samel.
Loot erken hy is bang om geopereer te word aangesien hy reeds van talle mense moes afskeid neem wat vir ‘n operasie in die hospitaal opgeneem is, net om sepsis te kry en dan daaraan te sterf.
Sou dit egter die enigste uitweg wees, sal hy die gewas laat uitsny.
Hy sê hy het fase vier kanker en alhoewel dit nog nie bevestig is nie, sal agt inspuitings die ding kan doen. Hy verduidelik die Jemperli is op 18 mense in Amerika getoets met ‘n 100% sukseskoers. Hy het intussen sy eetgewoontes aangepas en is, as gevolg van permanente pyn, op pynstillers. Hy kan nie lank sit nie en is baie ongemaklik.
“Kanker is in die familie, maar hierdie soort kanker is oorerflik. Ek het laat my seuns hulleself toets. Dalk, as ek vroeër dokter toe gegaan het en die probleem vroeër opgespoor is, sou dinge aansienlik anders gewees het.”
Besoek gerus die Backabuddy rekening en hou die media dop vir projekte wat deur Loot se geliefdes gehou word vir geldinsameling.




