99-mylpaal vir Tannie Alida
Tannie Alida het op 8 Julie haar 99ste verjaarsdag gevier, 'n besondere mylpaal.

MOKOPANE – “Die lewe gaan nou te vinnig by my verby. Die wêreld is deurmekaar en ek sukkel om by vandag se lewe aan te pas.”
So vertel Tannie Alida Prinsloo, waar sy knus toegewikkel is teen die koue vandeesweek, in nabetragting oor ‘n ryk en geseënde lewe.
“Almal van ons ervaar die moeilike tye in die lewe, maar ons moet hande vat, vorentoe kyk en die pad loop wat God vir ons gekies het, al is dit soms swaar.”
Tannie Alida het op 8 Julie haar 99ste verjaarsdag gevier, ‘n besondere mylpaal.
Sy vertel dat sy in 1924 as Human-dogter in die koue hoëvelddistrik van Delmas gebore is waar sy grootgeword het op ‘n plaas buite die dorp.
“Ons is gebore boeremense en het in die tydperk van die ossewaens en karweiwaens grootgeword. Ons het nie smart karre gehad nie, en nog Voortrekkerrokkies gedra. Toe ek so 10 jaar oud was het my ouers Jakobus, destyds ‘n kommandant-generaal, en Hester dorp toe getrek sodat ons nader aan die skool kan wees.”
Sy sê dat sy en haar boetie altyd met die karweiwa van die plaas af skool toe gery het, terwyl dit nog donker was.
“En soos boeties maar is het hy gereeld vir my weggery en moes ek maar agterna kom.”
Sy vertel trots dat haar oumagrootjie, Alie die suster van die destydse president van die Vrystaat was. “Sy het my altyd vertel sy het die konsentrasiekamp vrygespring en het maar altyd met haar waentjie voor die magte uit gevlug. Sy het baie moed gehad.”
Tannie Alida sê in daardie jare was daar nie iets soos matriek nie, “net standerd agt wat ek aan Hoërskool Delmas voltooi het voor ek terug is plaas toe om my ouers te help met die take op die plaas”.
Twee jaar later het haar man, Martinus haar voete onder haar uitgeslaan en het die twee die knoop deurgehaak.
Sy vertel hulle was albei plaasmense en na haar skoonpa oorlede is het hulle met die erfgeld ‘n plaas buite Roedtan gekoop: “en dis hoe ons in die Bosveld beland het”.
Uit hulle huwelik is een seun en twee dogters gebore. “Die kinders is almal later getroud en het hul eie lewens gelei.”
Albei dogters is al oorlede, en haar seun woon in KwaZulu-Natal op ‘n suikerrietplaas.
“Ek het vyf kleinkinders maar ek weet nie meer hoeveel agterkleinkinders daar is nie.”
Na die kinders uit die huis is het die eensaamheid haar en haar man begin vang en die ouderdom het begin inhaal.
“Ons het die plaas en alles daarop verkoop en by Soetdoringwoonstelle in die dorp gaan bly.”
Dit was ook in dié tyd, in 1986, wat Tannie Alida as stigterslid van die Dienssentrum vir Bejaardes haar hand oopgemaak het en gehelp het met pannekoekbak en straatkollekte vir die dienssentrum. Sy was ‘n bobaas bakster.
“Na my man se afsterwe het ek aanvanklik by my dogter gaan woon, en na haar dood het ek so vyf jaar gelede by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis ingetrek.”
Sy voeg by dat sy dit geniet by die ouetehuis, en sy bedank die personeel vir die diens wat hulle lewer, “maar my hoogtepunt sal maar altyd die plaaslewe wees”.
Haar stokperdjies was altyd brei en hekel, maar sy sê “die hande wil nie meer so lekker saamwerk nie” so deesdae sit sy en lees haar gunsteling romans.
Tannie Alida sê sy het nie ‘n spesiale resep om altyd so gelukkig te wees nie.
“Ek bly maar besig, hardloop maar altyd rond en beweeg maar met my kierie as my bene dit toelaat. Dis net my gehoor wat maar bietjie aan die min kant is.”
Sy moedig inwoners aan om nooit op te hou bid nie.
“Die Hoër Hand lei elkeen van ons, ons het nie ons lewens in ons eie hande nie. Kyk na Bo want dis waar die toekoms is.”
Haar verjaarsdagvieringe was vir haar baie spesiaal, sluit sy af.
“Dit was ‘n wonderlike verjaarsdag. My seun, kleinkinders en agterkleinkinders het my kom verras. Ons het lekker gekuier en koek geëet.”




