Versorging bly Lynette se passie
Augustus is vrouemaand, en Bosveld het by die spontane, vriendelike en omgeevrou Lynette Beer gaan kuier.
POLOKWANE – Bejaardes, kinders, gestremdes en versorging is haar passie.
Augustus is vrouemaand, en Bosveld het by die spontane, vriendelike en omgeevrou Lynette Beer gaan kuier.
Sy sê haar passie vir versorging het vlamgevat in Engeland toe sy haar suster gaan aflos het. Vir vyf jaar het sy elke jaar drie maande oorsee gaan werk.
“As jy by die pasiënte kom en die toestand sien waarin hulle is en hulle versorg, verskaf dit soveel vreugde om te sien watter verskil jy maak deur daardie omgee en tyd vir hulle te gee.”
Haar man het in die Bosveld gaan werk, en toe verruil hulle die see vir die bosveld waar hulle ‘n lodge bestuur het.
Daar was ‘n tydperk in haar lewe wat sy siek geword het en is gediagnoseer met jappiegriep, waarna sy beheer oor haar bene verloor het.
“Ek het gebid en die Here het vir my ‘n tweede kans gegee. Na my siekbed het ek nader aan die Here gegroei, Hy is en sal altyd my bron wees.”
Sy hou daarvan om gesond te lewe en te stap, en het al vele ‘Big Walks’ van 50km gedoen.
Met haar terugverhuis na Mokopane, na twee jaar in Groblersdal het sy gewonder of daar ‘n aanvraag vir tuisversorging is. Moira Nesmith het op haar pad gekom, en haar naam op ‘n lys gesit vir nodige versorging.
Maande het verbygegaan dat sy niks gehoor het nie.
En toe op ‘n dag laat weet Nesmith haar sy het iemand, en Dipak Ranchod van Bhoola kontak haar.
Hy vertel dat sy pa ‘n skoueroperasie ontvang het en hulle hulp nodig het.
“Ek het hulle ontmoet en dadelik begin help, en hulle het soos familie begin word. Al het hulle ‘n ander velkleur, maak dit nie ‘n verskil in hul menswees nie, op die ou end is ons almal dieselfde. Dit het my hart geraak. God kyk na jou hart, die res maak nie saak nie. Wat ek gee vir hulle kry ek in oorvloed terug, dit is daardie vervulling van menswees.”
Ranchod is baie dankbaar vir Lynette se hulp, en vertel dat dit nie maklik is om iemand soos sy in die dorp te kry wat betroubaar is nie. Dit bewys net weereens vir ‘n mens dat jy ‘n verskil in iemand se lewe kan maak.




