Local News

Help vir Bertie met Kersete

Bertie Nel, 'n geliefde motorwag in Polokwane, werk nou saam met die dwelmverslaafdes om vanjaar vir die haweloses in Polokwane en omliggende dorpe 'n Kersete te hou.

POLOKWANE – Terwyl talle vir nou nog op hulle kinders se eksamens gefokus is, dink ander reeds aan die vakansie en Kersfees wat voorlê. Beloftes van heerlike kos, geskenke en sommer net samesyn met vriende en familie word gemaak.

Ongelukkig is hierdie soort somer-Kersfees almal nie beskore nie.

Mense wat weens omstandighede buite hulle beheer op straat beland het, droom daarvan om ook vir hulle kinders, of net hulleself, ‘n Kersete en geskenk te kan gee. Baie van hierdie hawelose mense is vasgevang in die kloue van verslawing, en so hard soos wat hulle probeer, kan hulle nie daaruit ontsnap nie.

Bertie Nel, ‘n geliefde motorwag in Polokwane, werk nou saam met die dwelmverslaafdes asook die haweloses in die stad. Hy het hande gevat met Dagboek van ‘n Ouer, om vanjaar vir die haweloses in Polokwane en omliggende dorpe ‘n Kersete te hou.

Dagboek van ‘n Ouer is ‘n Facebookblad wat ondersteuning bied vir families met verslaafdes in die familie. “Ons hou elke jaar ‘n Emmertjieprojek, waar ons benodighede in ‘n emmer sit en dit dan by die kersete uitdeel. Ons kan dit egter nie sonder die gemeenskap se hulp doen nie, en ons vra dat hulle asseblief weereens hulle harte vir hierdie projek sal oopmaak. Ons beoog om vir 50 mense van geskenkemmers te voorsien.”

Items wat benodig word:

• 50 klein Croxley boekies om belangrike inligting soos ID-nommers te stoor.

• 50 penne.

• 50 gedrukte kaartjies of plakkers met Jeremia 29:11 en Bertie se nommer.

• 50 tandeborsels.

• 50 tandepaste.

• 50 koekies seep.

• 50 waslappe.

• 150 50ml leë botteltjies met proppe.

• 5L sjampoe.

• 5L haaropknapper.

• 5L lyfroom.

• 50 klein houertjies Vaseline.

• 50 Lip Ice of Zumbuck-stokkies.

• 50 skeermesse.

• 50 deodorant.

• 50 pette.

• 50 klein pakkies snesies.

• 50 waterbottels (500ml).

• 50 2min noedels.

• 50 Cuppa Soup.

• 50 pakkies suiglekkers.

• 50 pakkies koekies.

• 50 Drinkopop.

• 50 weggooi Ponchos.

• 50 klein geskenkies.

Die ete vind op 16 Desember plaas.

“Ons het almal iets wat ons nie meer gebruik nie, wat as ‘n geskenk gegee kan word. Die boekies en penne word gebruik om belangrike inligting te bewaar. Ek moedig hulle aan om boek te hou van hulle familie se kontaknommers. Daar is blykbaar 4 000 onbekende lyke in lykhuise in die land. Ek glo ‘n groot gedeelte van hulle is haweloses en verslaafdes wie se ouers wonder waar hulle is. Daar word wel vingerafdrukke geneem wanneer die liggaam lykshuis toe gaan, maar kan nie die persoon identifiseer sonder hulle volle name en ‘n ID-nommer nie. Enige sakke soos ou rugsakke wat gebruik kan word om die haweloses se aardse besittings in te dra, sal ook welkom wees.”

Skenkings kan by Bertie by Ingang 1, Savannah Mall afgelewer word, of hy kan gekontak word om dit te kom haal.

Sy nommer is 066 226 5011.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button