Gesellige rugbykuier by Manne Aand
Duane Vermeulen en Danie Gerber het Saterdagaand na afloop van die kuier saam ook ‘n veiling gehou.
POLOKWANE – Rugbyreuse Duane Vermeulen en Danie Gerber het Saterdagaand tydens die Tafelrondte Impala 157 se Manne Aand, hulle merkwaardige reise, triomf en suksesgeheime gedeel.

Gerber het tussen 1980 en 1992 vir Suid-Afrika in die groen en goud uitgedraf en 19 drieë gedruk.

Vanweë die land se isolasie, was sy internasionale loopbaan egter van korte duur. Tog het dit wel oor 12 jaar gestrek waarin hy 24 keer vir die Springbokke uitgedraf het.
In 2021 word hy in die RugbyPass Hall of Fame opgeneem.

Vermeulen het sy aftrede onlangs aangekondig na afloop van die Rugbywêreldbeker in Frankryk.

Hy spog met altesaam 17 wedstryde by dié internasionale skouspel oor die jare, waarvan ses in vanjaar se toernooi was.

Hy is by die 2019-toernooi aangewys as speler van die wedstryd en is twee jaar gelede in die RugbyPass Hall of Fame opgeneem.

Om die ys te breek en die aand prettig te maak het Nico Nel, bekende komediant en storieverteller, gaste met skreeusnaakse staaltjies vermaak.

Na afloop van die kuier saam met Vermeulen en Gerber is daar ook ‘n veiling gehou. Vos Botha van die Tafelrondte Impala 157 sê die opbrengs uit die veiling het al hulle verwagtinge oorskry.

“Die opbrengs van die geleentheid gaan opgedeel word tussen Wiele 500 wat hulle daarop toespits om mense met rolstoele te help, terwyl die ander deel gebruik gaan word vir sportontwikkeling van kinders in die stad. Sou daar kinders wees wat sporttoerusting benodig, kan ons hulle help, of wanneer ‘n begaafde kind moet reis vir sport, kan ons hom of haar bystaan.”
Botha sê na die sukses van die Manne Aand gaan hulle beslis ‘n soortgelyke geleentheid aanbied.




