LifestyleLocal News

Vroue praat uit oor geweld teen vroue en kinders

Elouise vertel hoe haar man Eben, net voor Kersfees verlede jaar, haar die eerste keer regtig aangerand het.

POLOKWANE – Op 25 November skop die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog af waar die klem gelê word op geslagsgebaseerde geweld. Polokwane Observer het met ‘n slagoffer van geslagsgeweld gesels oor haar ervaring.

Sy sit traanloos, met ‘n blou oog voor my en sê sy het al soveel gehuil sy kan nie meer nie. Dié blouoog is nie die eerste nie, maar hopelik die laaste van maande se aanranding.

Ek en Elouise (skuilnaam) sit en gesels terwyl haar jongste lagend deur die huis hardloop, onbewus van dit wat om hom gebeur.

“Ek en my man is amper vier jaar saam. Net voor Kersfees verlede jaar het hy my die eerste keer regtig aangerand. Gewoonlik stamp en stoot hy my net of slaan my net met die plathand. Ons het planne gehad om die aand alleen uit te gaan. Eben (skuilnaam) het egter baie min deur die dag met my gepraat.”

Teen die tyd wat sy by die huis gekom het, was Eben reeds onder die invloed van drank.

“Ek het nie gedrink nie, en teen die tyd wat die rekening by die eetplek waar ons was gekom het, het hy my gevra om te betaal. Ons is daarna na ‘n kroeg toe en terwyl ek nog die bestelling plaas, het daar ‘n geveg uitgebreek. Ek het probeer om vir Eben in die kar te kry sodat ons kan ry, maar hy het aanhou baklei. Eben het later in die kar geklim en toe ek ook inklim vra ek hom hoekom hy so kwaad is vir my. Hy het my deur die gesig en oor die kop begin slaan.”

Hy het op die regterkantse deel van haar kop gefokus en ook ‘n stuk van haar hare uitgetrek. “Hy het aanhou sê hoe hy my haat en hoe ek sy lewe opgemors het.”

Elouise het weer net stilgebly, maar die volgende dag ‘n saak gaan maak. “Ongelukkig het sy familie op my gevoelens gespeel en my gemanipuleer en dus het ek die saak terug getrek.”

Vir agt maande het dit beter gegaan, maar in Augustus het Eben weer sy hande vir Elouise gelig. Hy was dié dag op ‘n ongelukstoneel wat hom so ontstel het dat hy weer begin drink het. Hierdie keer erger as die vorige keer.

Die paartjie was die aand saam na ‘n kuierplek waarna Eben vir Elouise vra om die kinders by sy ouers te gaan haal. Intussen het hy besluit om huis toe te loop en toe Elouise hom halfpad kry en wil oplaai, het hy haar begin vloek.

“Hy het my voor die kinders met die vuis geslaan. Ek het eerder met die kinders huis toe gery in die hoop dat hulle sal slaap as hy daaraan kom. Die oomblik wat hy by die huis opgedaag het, het hy my aan my klere gegryp en begin slaan. Hy het my met enige iets waarop hy sy hande kon lê gegooi. Hy het na my oudste seun se kamer gegaan waar hy dié geskop en geslaan het. Toe ek ons jongste uit sy bed uithaal, begin Eben my weer oor die kop slaan. Ek het net gekeer dat hy nie ons kind raakslaan nie.”

Sy het daarin geslaag om veilig in haar kar te kom waarna Eben ‘n handwapen op haar gerig het. Hy het ook haar kar beskadig en toe sy wegjaag, hardloop hy agter haar aan met die wapen.

“Ek is na my ouerhuis. Ek het weer ‘n saak gemaak, maar kort voor Eben borg gekry het, het sy ouers weer met my kop begin smokkel. Hulle het heeltyd gesê die kinders het ‘n pa nodig. Ek het ook pas uitgevind ek is weer swanger. Ek het besluit om weer die saak terug te trek.”

Laat in Oktober het Eben se streke weer kop uitgesteek en hy het haar van ontrouheid beskuldig. Hy sou ook dinge sê soos dat dit beter sal wees as sy net dood is en sy is nie ‘n goeie ma nie.

Een Sondagoggend skop hy haar twee keer op die rug en sê sy moet opstaan.

“Ek het seer gehad en wou net rustig by die huis bly. Hy het daarop aangedring dat ons na ‘n piekniekplek gaan. Terwyl ek besig was om myself netjies te maak, het ek skielik begin wonder oor sy motiewe. Ek het gevoel iets is nie reg nie, en het hom reguit gevra of dit ‘n manier is om my dood te maak.”

Hulle het besluit om eerder Haenertsburg toe te ry en Eben het gesê hulle moet die tyd gebruik om te praat. Hy het egter heelpad nie ‘n woord gesê nie, net gedrink. Toe Elouise vir hom vra wat die probleem is, antwoord hy haar ‘jy is my grootste probleem’.

“Hy het vir my gesê as ons terug is in Polokwane is hy klaar met my en ook dat ek moet kies tussen my geloof en hom. Die keuse was maklik en ek het vir hom gesê ek sal altyd God kies. Op pad terug het hy skuins gedraai in die passasiers sitplek gesit. Die volgende oomblik, terwyl ek bestuur, slaan hy my met die vuis in die gesig.”

Met die eerste hou wat geval het, het haar neus en oog gelyk begin bloei.

“Dit is net God wat Sy hand oor ons gehad het daai dag. Ek het kort voor Dalmada gestop en vir Eben gevra om uit die kar uit te klim. Hy het my aan die nek gegryp en probeer om my nek af te draai. Nadat ek my duim is sy oog gedruk het, het hy my nek gelos, maar my kop teen die stuurwiel geslaan. Hy het heeltyd gesê hy gaan my dood maak. Alles ten aanskoue van ons twee jarige seuntjie.”

Terug by die huis het sy weer ‘n saak gemaak en sy is vasbeslote om dit deur te sien.

“Sy ouers blameer my vir al sy probleme. Ek het intussen ook uitgevind hy het reeds ‘n ander meisie, terwyl ek sy kind verwag. Hy het onlangs sy werk verloor, maar het ‘n groot bedrag pensioen uit gekry, tog betaal hy nie onderhoud nie.”

Elouise sê Eben was nie altyd so nie. “Hy het my laat voel asof hy my sielsmaat is. Ek is lief vir hom, maar hy is nie lief vir my nie. Nou moet ek weer myself vind. Gelukkig het ek ‘n wonderlike ondersteuningsisteem, sonder hulle sou ek die nie gemaak het nie.

Ek is nie kwaad vir hom nie, net teleurgesteld.” Vir hulp en berading in gevalle van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV), skakel die GGG-bevelsentrum by 0800 428 428. Jy kan ook versoek dat ‘n maatskaplike werker van die bevelsentrum jou skakel deur *120*7867# (gratis) vanaf enige selfoon te skakel.

Rapporteer gevalle van GGGV by enige polisiestasie of skakel die tolvrye Stop Misdaad-nommer by 086 00 10111.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button