6 goue medaljes vir Hein by Meesters
Aan die einde van Hein se skoolloopbaan ontvang hy die sportman van die jaar toekenning en in 1964 sluit hy hom by die Universiteit van Pretoria aan.
POLOKWANE – Sestig jaar nadat Hein Markotter (77) aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het, hou hy steeds sy alma mater se naam hoog.
Hein het sy hoërskoolloopbaan in 1959 begin en met ‘n natuurlike talent en liefde daarvoor, in verskeie sportkodes uitgeblink.
“Ek het reeds vanaf gr. 8 in die skool se eerste krieketspan gespeel en het ook aan rugby en atletiek deelgeneem. In 1962, my gr. 11 jaar, is ek gekies vir die Noord Transvaal Hoërskolekrieketspan en ek het ook vir die skool se eersterugbyspan uitgedraf.”
In sy gr. 12 jaar word Hein aangewys as die eersterugbyspan se onderkaptein en kaptein van die eerste krieketspan. In 1962 en 1963 is hy as PHS se Victor Ludorum aangewys en hy ontvang ook die beker as die beste veldatleet.

“Toe ek in gr. 12 was, is ek gekies vir die Noord-Transvaal skoleatletiekspan en was ook kaptein van dié span.
“Ek het aan velditems soos diskus, spiesgooi, gewigstoot en hoogspring deelgeneem en darem ook die aflosspan gehaal.”
Aan die einde van sy skoolloopbaan ontvang Hein die sportman van die jaar toekenning en in 1964 sluit hy hom by die Universiteit van Pretoria aan. Hier verteenwoordig hy die universiteit in rugby, krieket en atletiek.
“In 1990 besluit ek om aan padwedlope te begin deelneem en kan met vele voltooide wedlope spog. Selfs nadat ek 46 jaar oud geword het, het ek aangehou en goeie welslae behaal.”
Hein is in 1971 met Anita getroud en die egpaar het vier kinders.
Hy sê die kinders het nie regtig ernstig aan sport deelgeneem nie, maar sy oudste dogter was wel junior Springbok in korfbal en sy tweede oudste dogter het die Comrades al drie keer voltooi.
Vanjaar het Hein in die Afrika Meesters Atletiekkampioenskappe presteer.
“Vanjaar was slegs die tweede keer sedert 1996 dat dié kampioenskappe in Suid-Afrika aangebied is.
“Ek is gekies om die land te verteenwoordig en dit was uiteraard ‘n groot hoogtepunt vir my. Ek het vir ses velditems ingeskryf en het ses goue medaljes gewen.”
Hy het intussen afgetree en sê hy het nou baie meer tyd om te oefen.
“Ek begin my dag met ‘n oefensessie in die gimnasium en draf sekere dae. Ek neem steeds deel aan padwedlope, maar hardloop nie tans verder as 21km nie.
“Om op my ouderdom te doen wat ek doen is natuurlik in die eerste plek net genade wat die Here vir my onverdiend gee. Dit is egter absoluut noodsaaklik dat ‘n mens van jongs af jou liggaam oppas.
“Vermy skadelike dinge soos rook, drank, dwelms en verkeerde eetgewoontes. Jou leuse moet wees ‘leef gesond en eet gesond’. Om aan ‘n sport deel te neem, soos met alle ander dinge, verg toewyding, volharding, deursettingsvermoë-, selfvertroue en goeie sportmangees. Dit gaan nie oor die wen maar om altyd jou beste te gee.”




