Local News

Water tekort beïnvloed nie net mense nie maar diere ook

Die watertrokke wat onlangs aangekoop is, het min effek op watervoorsiening aan inwoners, met sommige inwoners wat twee weke wag vir waterlewering.

POLOKWANE – Ongeveer 20 000 liter water is wat Zanna Bird & Reptile Park elke tweede tot derde dag benodig om diere by dié fasiliteit te versorg.

Die park huisves verskeie soorte voëls, reptiele, katspesies, aapfamilies en nog meer om op te noem, en net soos in die res van die stad, is watervoorsiening ‘n tergende kwessie hier.

Eienaar, Bruno Zanna, sê hulle krane is al meer as ses maande droog en hulle is afhanklik van die munisipaliteit se watertenkwa om hulle 20 000l tenk vol te maak. “Ons sukkel al meer as vier jaar met water en het meer as ‘n week laas water van die munisipaliteit se watertenkwaens gekry. Ons besoekers kla, want daar is nie skoon water vir die toilette nie, ons gebruik swembadwater, en dit lyk of die diere se waterbakke leeg is. Dit is glad nie die geval nie, maar dit raak ‘n groot uitdaging vir ons.”

Zanna sê hy ondersoek verskillende oplossings en maak planne oor hoe om reënwater op te vang, net om vir die diere te sorg. Hulle het reeds verskeie van die hokke vergroot met die doel om net een waterbak in plaas van drie daar te hê. Die diere in die hokke is ook tot op die minimum in terme van hoeveelhede.

Zanna het die saak by die DA se omgewingsraadslid, Mariëtte Pretorius, geopper.

Die verbinding by die krag boks wat veroorsaak dat net ‘n paar druppels reëN die krag laat afgaan.

Sy het Polokwane Observer na ‘n skrywe op sosiale media van Johan Retters van die waterportefeulje, verwys.

“Die DA sal die voortslepende waterkrisisse in Polokwane aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) en die Minister van Water en Sanitasie rapporteer aangesien daar geen tasbare verbetering sedert die menseregtekommissie se aanbevelings is nie.”

Retters sê die kommissie het onlangs ‘n verdoemende verslag oor toegang tot water en die doeltreffendheid van waterdiensteowerhede in Limpopo vrygestel en bevind dat Polokwane Munisipaliteit erken dat hy nie water aan alle inwoners binne sy jurisdiksie verskaf nie vanweë ‘n toename in die bevolking, tradisionele leierskaptoewysing van residensiële grond wat nie aan die munisipale ontwikkelingsmeesterplan voldoen nie, verstedeliking, asook die gebrek aan instandhouding van verouderende infrastruktuur.

Die visse se pompe kan nie pomp met die herhaaldelike beurtkrag nie.

“Die SAMRK het aanbeveel dat die munisipaliteit hulle binne drie maande van ‘n gedetailleerde plan voorsien, wat aandui hoe die plaaslike owerheid deurlopende toegang tot water in alle geaffekteerde gebiede sal verseker en die DA wag gretig op dié verslag,” lees die skrywe.

Die stad benodig daagliks 100 miljoen liter water, en die 36% waterverliese dra by tot 30 miljoen onverklaarde liter waterverliese daagliks wat die totale toevoer na die stad tot onder 60 miljoen liter per dag verlaag.

Volgens Retters is dit nie net die bevestigde waterverliese van 36% wat tot die krisis bydra nie, maar ook verskeie ander uitdagings wat watervoorsiening na die stad beïnvloed soos beurtkrag en onderbroke watertoevoer vanaf alle waterbronne wat verdere druk op die toevoer plaas.

Die watertrokke wat onlangs aangekoop is, het min effek op watervoorsiening aan inwoners, met sommige inwoners wat twee weke wag vir waterlewering.

“Die miljoene liters onverklaarbare waterverliese veroorsaak daagliks groot benoudheid vir inwoners en ons sal die munisipaliteit by die SAMRK-aanbevelings hou om die lewens van almal wat in Polokwane woon te verbeter.”

Volgens die munisipale woordvoerder, Thipa Selala, is Ivypark een van die gebiede wat konstante wateruitdagings ervaar. “Die area word voorsien van ‘n watertenkwa om met tydelike watertoevoer te help. Die watertenkwaens lewers deurlopend deur die dag water om te verseker al die inwoners kry water. Indien inwoners nie bystand ontvang nie, moet hulle die munisipaliteit of die wykslid kontak sodat die watertenkwaens na die geaffekteerde strate gestuur kan word.”

Water probleme is egter nie die enigste faktor wat die park se bedrywighede kelder nie. Beurtkrag het ‘n negatiewe effek op die honderde visse in die tenke wat suurstof deur middel van ‘n pomp kry.

“Ook, elke keer as dit reën is ons sonder elektrisiteit, aangesien die elektriese boks buite ons erf nie op standaard is nie. Die verbindings is nie reg toegemaak nie. Ons kla ook al meer as drie jaar hieroor, maar kry geen hulp nie,” het Zanna verduidelik.

Inwoners word aangemoedig om versoeke vir water aan die munisipaliteit te rig deur middel van die inbelsentrum, ‘n direkte oproep of ‘n boodskap na die WhatsApp nommer.

Direkte nommer vir water en sanitasie: 015 299 2376 / 015 290 2000.

WhatsApp nommer: 068 290 8736.

Elektrisiteitsverwante probleme kan by die Polokwane Munisipaliteit se WhatsApp-nommer aangemeld word op 083 824 9886 of skakel 015 290 2490/2705.

E-pos: electricalcomplaint@polokwane.gov.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button