See toe, maar wie sien om na Flaffie?
‘n Plaaslike studente-onnie in Polokwane kan dié tameletjie vir jou oplos.
POLOKWANE – Desember is vakansietyd en baie families gaan in dié tyd see toe.
Ongelukkig kan almal se viervoetige familielede nie altyd saamgaan nie, en is dit ‘n effense nagmerrie om iemand betroubaar te kry wat met liefde na jou troeteldiere kan omsien.
JC Logtenberg het, nadat hy ‘n goeie vriendin se honde onlangs moes oppas, besluit om meer gereeld na troeteldiere om te sien.
“Ek het aan die begin van die jaar daarmee begin. Ek is ‘n studente-onderwyser en pas troeteldiere op vir ‘n ekstra inkomste.”
JC vra ‘n bepaalde bedrag vir elke keer wat hy by jou huis draai, en sal ook teen ‘n ekstra bedrag oorslaap.
“Gelukkig het geen troeteldier darem al na my probeer hap nie,” skerts hy. “Een van my kliënte het verskillende troeteldiere en elkeen het hulle eie manier van hoe ek vir hulle moet kos en water gee. Dit was soms ‘n uitdaging.”
JC pas nie net honde en katte op nie, maar ook ander troeteldiere. Hy het al na marmotte en selfs klein voëltjies omgesien.
“Ek baie lief vir diere, maar sal nie graag na siek diere wil om sien nie. Dit sal my hart breek as hulle iets moet oorkom terwyl ek na hulle kyk.”
JC kan by 076 813 5280 gekontak word.




