Local News

‘Layla se Mamma’ ‘n regsvrou en ma van formaat

Dié bynaam, vertel plaaslike advokaat Cindy Marais, kom reeds saam met haar vandat haar dogter in die dagsorg was jare gelede.

POLOKWANE – Toe Layla Marais in die dagsorg en later kleuterskool was, het haar maats vinnig geleer om haar ma, Cindy, sommer net “Layla se mamma” te noem. Dié naam het vasgesteek en naderhand het ander ouers en selfs van hulle vriende ook vir Cindy as “Layla se mamma” aangespreek.

Vandag is Layla al in die hoërskool en Cindy staan steeds as “Layla se mamma” bekend.

Cindy is egter ‘n advokaat wat daarvan hou om ander mense se probleme te help oplos – en boonop waarnemende regter in die hooggeregshof.

Sy gesels oor haar pad na die regte.

“Ek het nooit daaraan gedink om regte te studeer nie. Ek wou eintlik altyd ‘n vlieënier word, maar daar was nie geld om voltyds te studeer nie.”

Meer as 20 jaar later, weet Cindy vandag dié beroep het haar gekies.

Na skool het sy by ‘n prokureur as liasseerklerk begin werk en stelselmatig tot litigasietikster gevorder, totdat die prokureur eendag vir haar gesê het sy moet begin studeer.

“Dit alles het baie vinnig gebeur, en alles binne omtrent ‘n jaar nadat ek vir hom begin werk het. Ek kon egter nie die studies bekostig nie, en hy het my ingeskryf en ook geregistreer om my kandidaat klerkskap by die firma te doen.”

Die firma het egter kort daarna toegemaak, maar die bal was reeds aan die rol vir haar, vertel Cindy.

Die werk is egter stresvol, soos wat ‘n mens kan verwag.

“’n Mens is die heeltyd in ‘n baklei-omgewing. Dis nie altyd maklik nie, en nie altyd lekker nie, want jy moet jou eie emosies kan beheer. Dit raak soms moeilik, veral wanneer kinders ter sprake is.”

Tog, vertel sy, is dit baie vervullend om te weet jy het ‘n kind uit nare omstandighede gehaal en gesorg vir beter toekomsmoontlikhede.

Sy vertel ook van haar werkholis-streep, iets wat Layla beslis beaam.

“Ten spyte van die ure, stres en druk, vervul my werk my steeds elke dag. Ek dink om niks te doen nie, sal my na my dood dryf.”

Layla is Cindy en haar man, Nelson, se enigste kind en Cindy beskryf haar as ‘n wonderwerkbaba.

Layla en Cindy.

“Ek het vyf jaar gesukkel om swanger te raak. Ons is deur ‘n paar miskrame en mislukte in-vitrobevrugtings. Spesialiste het gesê dat selfs met in-vitro, sou ek net ‘n 3% kans gehad het om swanger te raak of ‘n voltermyn baba sou kon dra.

“Ek en Nelson het besluit ons gaan aanvaar dat ons nie ‘n kind gaan hê nie. Ons het ‘n huis begin bou en beplan om daardie Kersfees ‘n white winter in Amerika te hê.

Ons het die idee van kinders heeltemal laat gaan, en net mekaar en die lewe geniet. Maar by die Oktoberfees einde September 2006 het ons te veel fees gevier, en toe raak ek natuurlik swanger.”

Met ‘n veeleisende werk en ‘n veeleisende skoolprogram, is balans belangrik.

“Ek erken ek kry dit nie altyd reg nie. Layla se aktiwiteite by die skool is egter altyd my nommer een prioriteit. Hoe ouer sy word, hoe meer uitdagend word my werk en werksure. Ek het vir Layla ‘n au pair gekry, en dit was een van die beste besluite ooit. Terwyl sy vir Layla gehelp het met rondry na buitemuurse aktiwiteite, kon ek my werk klaar maak. Ek het dus nie nodig gehad het om in die aande huiswerk te sit en doen met ‘n kind én myself wat moeg en moeilik is nie. Wanneer ek by die huis gekom het, kon ons net ma en dogter wees, in stede van my wat moet kwaai juffrou ook wees.”

Sy beskryf dit as ‘n “ongelooflike voorreg” wat nie almal beskore is nie.

“Dit verg baie opoffering. Dit beteken dat ek langer ure werk en minder by die huis is in vergelyking met ander ma’s, maar die tyd wat ons wel saam spandeer, is daar nie ‘n bakleiery of ander stres en gejaagde omstandighede nie.”

Cindy sê sy en Layla is beide vraatkykers, al het hulle ‘n boek of rekenaar op die skoot.

“Ons is ‘n hegte gesin wat al ons vrye tyd saam deurbring. Ons hou van reis, en ons WhatsAppgroep se naam is juis Marais Travellers. Ons hou van kuns, kultuur en geskiedenis of geskiedkundige plekke.”

Vir ‘n vrou om alles gebalanseerd te hou, kan uitdagend wees. Cindy sê om gebalanseerd te wees moet jy gelukkig wees, met jouself en jou omstandighede.

“As jy nie gelukkig is in waar jy jouself bevind nie, gaan jy nooit ‘n gebalanseerde lewe hê nie. Soms gaan jy selfsugtig moet wees en besef dit wat jy in die lewe wil doen net so belangrik is soos jou man en kind se geluk is. Sodra jy vervuld voel, rol dit oor op jou gesin. Finansiële onafhanklikheid is ‘n moet. Ons dogters moet weet dat hulle vir hulself kan sorg en onafhanklik kan wees. Dit alles dra by tot ‘n gebalanseerde lewe, sodat jy ook jou plek in die lewe kan volstaan.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button