Local News

Sigaret, damptoestel of okkapyp: Wéét wat jy inasem

Om te kies tussen ‘n damptoestel, ‘n okkapyp en ‘n sigaret as jou keuse van rook is soos om te kies tussen eerste-, tweede- of derdegraadse brandwonde.

POLOKWANE – Of dit nou sigarette, pyp of sigaar is, mense rook reeds geslagte lank.

Bykans net so lank reeds probeer dokters en verpleegkundiges rokers oortuig dat dié gewoonte nie net vir hulle skade in hou nie, maar ook vir die mense rondom hulle.

Ongeveer 20 jaar gelede het veral die okkapype (hubbly bubbly of hookah-pyp) gewild geraak, veral onder nie-rokers.

Verskillende geure en smake en die idee dat die water in die pyp die skadelike stowwe soos teer en nikotien filtreer, maak van dié manier van rook ‘n meer sosiaal-vriendelike opsie.

‘n Okkapyp.

Meer onlangs het damptoestelle (vapes) al gewilder geraak. Dié toestel verhit die vloeistof, wat dikwels nikotien bevat, sodat dit in wasem verander. Die vloeistof is gegeur en ruik dus nie nie na rook nie, terwyl die okkapyp houtskool inspan om die gegeurde tabak of kruiemengsels te verhit om rook te produseer.

Die rook word deur water gefiltreer en dus word daar verkeerdelik geglo dat dit minder skadelik is as tradisionele sigarette.

Polokwane Observer het met dr. Wilhelm von Ludwig gesels oor die verskille in rookmetodes en die risiko’s daaraan verbonde.

“Daar is baie wanopvattings oor die skade van damptoestelle, teenoor dié van sigarette. Baie mense beskou damptoestelle en okkapype as nie-skadelik, aangesien daar gedink word dat dit minder chemikalieë as sigarette bevat.”

‘n Damptoestel.

Een wanopvatting is dat die water in ‘n okkapyp as ‘n filtreerder optree, maar die eintlike doel van die water is om die rook af te koel, om brandwonde wat opgedoen word wanneer die roker die rook inasem, te voorkom, verduidelik hy.

“‘n Ander wanopvatting is dat aangesien nikotien wateroplosbaar is, dit in die water sal oplos en uit die rook verwyder word. Hierdie logika sou egter impliseer dat dat geen borrels in water suurstof, koolstofdioksied of stikstof bevat nie, al is al drie wateroplosbare gasse.”

Von Ludwig sê om te wonder oor die veiligheid van ‘n okkapyp, ‘n damptoestel of ‘n tradisionele sigaret as jou keuse van ‘n dampie, is om te kies tussen eerste-, tweede- en derdegraadse brandwonde.

‘n Sigaret.

“Elke metode behels die inaseming van gifstowwe, die genereer van skadelike chemikalieë soos koolstofmonoksied en hou potensiële gesondheidsrisiko’s, wat beide long- en kardiovaskulêre gesondheid beïnvloed veral met langdurige gebruik, in. Om aan rook verslaaf te wees behels beide fisiese afhanklikheid, soos jou liggaam wat afhanklik is van die nikotien, en die sielkundige aspekte soos gewoontes, snellers en drange in.”

Von Luwig sê rook beïnvloed die brein nadelig deur die neurotransmittervlakke te verander, jou bui en kognisie te beïnvloed en die risiko van beroerte of demensie te verhoog as gevolg van verminderde bloedvloei en suurstof.

“Die ouderdomsbeperking van 18 vir rook neem ontwikkelingstadia in ag, maar nie noodwendig volwassenheid nie. Op 18 weerspieël ’n persoon nie volle volwassenheid nie. Breinontwikkeling duur egter voort tot die middel-20’s. Die ouderdomsbeperking is gebaseer op die maatskaplike norme en wetlike raamwerke wat as regulatoriese maatreël dien,” sluit hy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button