Local News

Plaaslike model bekoor by New York modeweek

Wilhrisca Britz beplan om eersdaags terug te keer om werkswinkels plaaslik aan te bied.

POLOKWANE – Toe sy haar blonde hare vir pienk verruil het, het Wilhrisca Britz nie gedink haar agent sal ooit voorstel dat haar hare weer donker moet wees nie. Tog is dit presies wat gebeur het tydens die afgelope winter/herfsmodeseisoensessie tydens die New York modeweek.

“As jy my ‘n jaar terug gesê ek gaan New York toe sou ek vir jou lag en sê ‘I wish’. Maar hier is ek nou, ‘n droom wat ek gevoel het te groot is vir my, ‘n plattelandse vrou. Toe die moontlikheid daar is, toe verander ek my denkwyse en besef geen droom is ooit te groot nie.”

Sy is reeds sedert Desember in New York en beoog om binnekort terug te keer om werkswinkels te hou en haar kennis met ander modelle deel.

“Die internasionale mark is anders as hier en Suid-Afrika se standaarde is maar laag. Modelle maak dit nie sommer in die bedryf nie. As ek gereeld Suid-Afrika toe kan kom en werkswinkels hou om vir modelle te leer hoe dit werklik in die modewêreld gaan, sal dit wonderlik wees.”

Oor hoe sy in New York beland het, sê Britz, wat die eienaar van Ace Models Limpopo Central was, een van haar studente het die pad vir haar gebaan.

“Ek het vir Naledi Rabalao (13) voorberei om aan die Miss Global Princess South Africa deel te neem. Die algehele wenner het die geleentheid om gratis aan die New York Fashion Week deel te neem. Ek het begin reëlings tref om saam met haar te gaan, en ‘n ruk voor ons sou vertrek, is haar kompetisie uitgestel. Aangesien ek reeds vir alles betaal het, het ek besluit om steeds te gaan en toe ek daar was, begin kontakte opbou.”

Wilhrisca Britz in die rok van Zazi Factory.

Terug in Suid-Afrika het sy oor haar toekoms besin en besluit om Ace Models Limpopo Central te verkoop en terug te keer na New York.

Behalwe vir die voor-die-hand-liggende verskille tussen New York en groot stede in Suid-Afrika, sê Britz verskil die modewêreld ook baie.

“In Suid-Afrika, veral Polokwane, het die mense my snaaks aangekyk met my pienk hare. In New York is dit ‘n algemene verskynsel. Ek voel meer tuis in New York as in my geboorteland. In Suid-Afrika trek mense klere aan sodat hulle nie beoordeel word nie. Al sê hulle ‘ek dra wat ek wil’ probeer hulle steeds ander in gedagte hou. Hier in New York trek jy aan wat jy wil, hoe jy wil en soos jy wil. Letterlik.”

Veiligheid is een voordeel vir Britz waar sy in New York woon.

“Al is dit 02:00 kan ek in die straat huis toe stap sonder om bang te wees. Elke plek in die wêreld het sy voordele en nadele. Ek het grootgeword waar ‘n mens heeltyd oplettend moet wees oor wat om jou aangaan, so hier in New York voel ek regtig veilig.”

By die modeweek het sy Evan Hirsh se uitrustings gedra, ‘n ontwerper vir wie sy al vele kere geloop het.

Lees meer oor haar toekomsplanne in hierdie week se Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button